Misdaad

Só is 6-jarige by McDonald’s in Germiston doodgeskiet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was net een skoot, maar reg in die agterkant van sy kop, wat blykbaar die sesjarige seun van Germiston se lewe geëis het toe hy en sy ouers soos talle ander kere by hul gunsteling-McDonald's-eetplek stilgehou het.

Die personeel het hulle geken.

Dit was vir hulle dus net gepas om die afgelope week na die gesin te gaan, mekaar te probeer vertroos en hulde aan die jong "klant" te bring.

Die gesin wie se lewe Vrydagaand ten tyde van 'n rooftog by die eetplek in Meadowdale, Germiston, uitmekaargeruk is, se name is nog nie bekend gemaak nie, maar hulle het die onderneming van private sekerheidsmaatskappye, McDonald's self en die polisie dat alles gedoen word om die moordenaars op te spoor.

Die polisie het vroeër gesê drie verdagtes het daardie aand omstreeks 22:00 by die deurrygang van dié McDonald's kos bestel.

Die McDonald's in Meadowdale, Germiston, waar personeel Vrydag beroof en 'n kind doodgeskiet is. Dit blyk 'n gewilde eetplek in die omgewing te wees. Foto: Deaan Vivier
Die McDonald's in Meadowdale, Germiston, waar personeel Vrydag beroof en 'n kind doodgeskiet is. Dit blyk 'n gewilde eetplek in die omgewing te wees. Foto: Deaan Vivier

Hulle het van die interkom waar bestellings geplaas word, om die effense draai met die deurrypaadjie gery.

By die venster waar klante betaal, is veiligheidstralies.

Skielik het die drie mans hul bestelling gekanselleer en "gery" - maar net tot by die tweede venster, waar die kos gewoonlik aan klante in hul voertuie oorhandig word.

Hier het twee van die aanvallers deur die venster gespring, personeel binne met vuurwapens gedreig en aangerand, skote afgevuur en 'n kasregister-laai met kontant in geroof.

Buite het die derde makker in die motor gewag.

'n Ander voertuig het om die draai agter die verdagtes se motor ingetrek.

Binne was 'n pa, 'n ma en hul seuntjie.

As 'n misdadiger kies om 'n misdaad te pleeg, is daar min wat 'n mens kan doen.

Dié McDonald's-eetplek is weekdae tot 22:00 oop, lui 'n kennisgewing op die deur - maar naweke is dit 24 uur oop. En dit was skoolvakansie.

Toe klim die derde rower uit die voertuig uit en rig 'n vuurwapen op die gesin agter hom. Hy het die ouers van hul fone en ander items beroof.

Die pa het agteruit uit die drukgang-agtige paadjie met 'n randsteen aan die linkerkant begin ry - en toe skiet die derde rower.

Die gesin het weggekom, maar op pad huis toe het die ouers besef hul kind is in die agterkop getref.

Hulle het net daar na die naaste hospitaal gejaag, waar die seuntjie dood verklaar is.

Daniel Padiachy, hoofbemarkingsbeampte van McDonald's, sê nadat die maatskappy gehoor het van die kind se dood, is alle kringtelevisiebeeldmateriaal en inligting aan die owerhede oorhandig.

Dit blyk dat die voorval aanvanklik as 'n "mislukte kaping" beskou is, totdat dit aan die lig gekom het dat ook die personeel van die Meadowdale-McDonald's slagoffers was.

"Die veiligheid van ons personeel en klante is 'n prioriteit. Dit is standaardprosedure om inligting aan die polisie te verskaf en ook ons plig. Ons wil ook geregtigheid hê vir daardie gesin en vir ons personeel," sê Padiachy.

Ter wille van veiligheid is alle McDonald's-takke se parkeerterreine verlig. Elke tak het ook 'n wag.

Personeel word opgelei om rooftogte te hanteer deur byvoorbeeld nie teenstand te bied nie omdat dit werknemers en klante se lewe in gevaar kan stel.

Motoriste bestel hul kos by die interkom en volg dan die deurrypaadjie verby die betaalvenster, wat veiligheidstralies het, en dan na die venster waar die bestellings ontvang word. Die pad maak ’n effense draai en het ’n randsteen aan die linkerkant, wat dit vermoedelik vir die slagoffers van Vrydagaand se moord moeilik gemaak het om in trurat weg te kom.  Foto: Deaan Vivier
Motoriste bestel hul kos by die interkom en volg dan die deurrypaadjie verby die betaalvenster, wat veiligheidstralies het, en dan na die venster waar die bestellings ontvang word. Die pad maak ’n effense draai en het ’n randsteen aan die linkerkant, wat dit vermoedelik vir die slagoffers van Vrydagaand se moord moeilik gemaak het om in trurat weg te kom. Foto: Deaan Vivier

"As 'n misdadiger kies om 'n misdaad te pleeg, is daar min wat 'n mens kan doen. Jy is net so weerloos (by die deurrygang) as wanneer jy by 'n verkeerslig stilhou," sê hy.

"Ons het vir ons personeel berading gereël, want hulle is ook deur 'n trauma. En toe het Meadowdale se personeel die gesin gaan besoek om meelewing te betoon en hulde aan die seuntjie te bring.

"Tydens die besoek het die ouers gesê hul kind was mal oor daardie restaurant," sê Padiachy.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek nou klagte van roof en moord.

Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Janine Dalgleish van die Bedfordview-gemeenskapspolisiëringsforum sê verskeie sekerheidsmaatskappye werk saam om te help om die drie aanvallers vas te trek.

"Dit is vieslik wat gebeur het. Daar was geen rede om te skiet nie. Ons gemeenskap is baie geskok oor dié voorval."

- hotto@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM