Verkoolde lyk is dié van vermiste man van Bothasig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Malcolm Pather Foto: Facebook/WAAR Brandit INNI DELFT
Malcolm Pather Foto: Facebook/WAAR Brandit INNI DELFT

Die verkoolde lyk van 'n man wat op 14 Julie op die agterkant van 'n uitgebrande voertuig langs die Ou Mamre-Darling-pad in Melkbosstrand gevind is, is as dié van die vermiste Malcolm Pather geïdentifiseer.

Pather is laas op 13 Julie gesien toe hy sy woning in Bothasig in sy blou BMW 1-reeks verlaat het, lui 'n polisieverklaring.

Sy swaer het hom op 15 Julie as vermis aangemeld.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie is op 14 Julie omstreeks 01:20 van 'n brandende lyk op die toneel in kennis gestel. "Die lyk was onherkenbaar verbrand," sê hy.

Alle leidrade is opgevolg op grond van bewyse wat op die misdaadtoneel gevind is en 'n moontlike verdagte is geïdentifiseer, sê Van Wyk.

Nadat die polisie Vrydag die verdagte se adres opgespoor het, is 'n 39-jarige vrou in hegtenis geneem vir ondervraging.

Volgens Van Wyk het die vrou probeer om haarself om die lewe te bring nadat sy in hegtenis geneem is. "Sy is later in die hospitaal opgeneem en bly in aanhouding," sê Van Wyk.

'n Tweede verdagte, 'n 39-jarige man, is Maandag by die landdroshof in Kaapstad in hegtenis geneem.

Albei verdagtes sal Woensdag hul eerste verskyning in die landdroshof in Atlantis maak op aanklag van moord. Bykomende aanklagte sal ná oorlegpleging met die Nasionale Vervolgingsgesag bygevoeg word.

- megan.adendorff@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA