'n Volwasse man wat die elmboog na bewering te hoog gelig het, is in hegtenis geneem nadat 'n vrou oor die pad se rand oor 'n afgrond geslinger is toe hy na bewering twee drawwers raakgery het.
Die Seepunt-polisie ondersoek 'n saak van bestuur onder die invloed van alkohol en roekelose en nalatige bestuur nadat die ongeluk Sondag in Victoriaweg gebeur het, sê sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder.
Volgens berigte is twee drawwers, 'n man en 'n vrou, raakgery.
Die beseerde slagoffers is na 'n mediese gerief geneem.


Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstad-metro se brand-en-reddingsdienste, sê hulle is omstreeks 07:40 oor die voorval ingelig.
Brandweermanne van Roelandstraat is ontbied. Die tegniese reddingsvoertuig en 'n toutegnikus is ook ingespan.
Spanne van die Seepunt- en Goodwood-brandweerstasie het ook hand bygesit.
Carelse sê hulle het gehelp om die vrou te beveilig nadat sy "oor die muur geslinger en ongeveer 30 m naby die kuslyn gelê" het.
Volgens hom is albei drawwers beseer. Die man is langs die muur gevind. Hy is op die toneel behandel en na 'n hospitaal vervoer.


Die vroulike pasiënt, voeg Carelse by, is omstreeks 09:30 opgehys en daarna na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal vervoer.
Nicola Jowell, wyksraadslid, skryf op Facebook: "Maak nie saak watter tyd van die dag of nag nie, dronkbestuur kan onskuldige mense se lewe eis."
Volgens haar het die "vermoedelik dronk bestuurder beheer verloor" oor sy motor.


Jowell skryf die vrou is "in 'n kritieke toestand, maar stabiel - baie dankie aan die dokter wat naby gehardloop het en gehelp het".
Sy maak ook melding van die tweede persoon, wat glo 'n gebreekte been opgedoen het.
Die bestuurder, het Jowell bygevoeg, "behoort van poging tot moord aangekla te word".
Die polisie vra dat enigiemand met inligting oor die voorval die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 skakel.
- carl.thomas@media24.com






















