Die inwoners van 'n spogbuurt in die Rosestad is ontstoke oor 'n nuwe inwoner ongeveer 14 beeste in sy agterplaas aanhou.
Die eienaar van die beeste sê egter hy mag dié beeste aanhou omdat hy op 'n kleinhoewe woon.
Johan Pretorius, DA-raadslid vir Rayton, sê dit is onwettig om beeste in 'n woonbuurt aan te hou.
"Die beeste lok allerhande vlieë en dit is onhigiënies," sê hy.
Inwoners sê die beeste se eienaar laat soms ook die beeste vry in die straat rondloop en dan wei hulle op oop stukke grond.
Jaén du Toit, wat op die eiendom langs dié erf woon, sê dit is onooglik en bring die eiendomswaarde van die huise in die omgewing af.
"Die beeste is 'n baie groot gesondheidsrisiko en nie regverdig teenoor die bure nie," sê Du Toit. "Dit is nie regverdig dat ons nou almal langs 'n voerkraal moet woon nie."
Die eienaar van die beeste, 'n ene Zola, sê hy het 'n plaas in Bainsvlei buite die stad gekoop. Sodra die plaas op sy naam is, sal hy die beeste daarheen vervoer.
Hy sê daar is niks wat hy tans aan die saak kan doen nie. Zola wou nie sy van verskaf nie.
"Dit is 'n plaas en ek kan vee hier aanhou. My buurman langs my het ook vee, so ek verstaan nie hoekom die mense net oor my kla nie," sê hy. "Ek kla nie oor die mense wat geraas maak of die kinders wat op my erf kom nie."
Nóg 'n buurvrou besit 'n nasorg vir gestremde kinders en sê die gesondheidsgevaar wat die beeste inhou, maak haar benoud. Sy verkies om anoniem te bly. "Dit is nou winter, maar as die somer kom, gaan ons oortrek wees van die vlieë.
"My grootste besorgdheid is die gesondheid van my kinders," sê sy.
Pretorius het die eerste klagte oor die beeste op 19 Junie ontvang en het dit dadelik onder die munisipaliteit se aandag gebring. Die munisipaliteit het glo vir Zola gesê om die beeste teen einde Junie te verwyder.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het nie Dinsdag op navrae reageer nie.



















