Gautengers en ander wat dié skoolvakansie aan die KwaZulu-Natalse kus wil deurbring, kan 'n sug van verligting slaak omdat net 'n paar strande gesluit is.
Volgens die eThekwini-munisipaliteit is 20 strande in Durban en omgewing oop en word as veilig vir swem beskou. Dinsdag was drie gesluit vir swem weens die swak watergehalte: Laguna, Reunion en Winklespruit.

Die 40 swembaddens in die eThekwini-munisipaliteit is ook oop.
Die Laguna-strand het Dinsdag die hoogste Escherichia coli (E. coli)-lesing, 11 199/100 ml, gehad, gevolg deur die Winklespruit-strand met 4 360/100 ml en Reunion met 2 603/100 ml.
'n Telling van minder as 130/100 ml is uitstekend en meer as 500/100 ml is swak.

Gugu Sisilana, woordvoerder van die eThekwini-munisipaliteit, sê strande word gesluit as voorsorgmaatreël weens kommer oor besoedeling. "Die status van strande en swembaddens sal opgedateer word sou dit verander. Mense kan steeds ander ontspanningsaktiwiteite by geslote strande geniet. Hulle kan net nie daar swem nie."
Sisilana sê strande se water word weekliks vir hoë vlakke van E. coli getoets. "As die E. coli-vlak hoog is, word die strand gesluit. Dié strande kan binne dae weer veilig verklaar word."
- seugnet.vanzyl@media24.com






















