Die veelbesproke kabelkarplan in Franschhoek het nog nie ontspoor nie, maar hang wel steeds in die lug.
Alwyn Laubscher, projekbestuurder, sê by navraag die plan vir die kabelkar is steeds in sy konseptuele fase.
“Daar is aktiewe en deurlopende gesprekke met die gemeenskap van Franschhoek oor die onderliggende visie van die voorgestelde ontwikkeling,” sê hy.
Wat sperdatums vir die plan betref, sê Laubscher die projek is nog in ’n baie vroeë konsultasiefase. Daar is nog geen aansoeke vir toestemming ingedien nie en dus ook geen streng tydsraamwerk nie.
Die ontwikkelaars is passievol oor die projek en die vele ekonomiese voordele wat dit vir die gemeenskap kan ontsluit.
Dit is belangrik vir almal wat betrokke is om ’n breë konsensus binne Franschhoek te verkry oor die omvang en ontwerp van die voorgestelde projek, sê Laubscher.
“Dis hoekom ons die tyd neem om al die konstruktiewe terugvoer wat ons in ons vroeë konsultasies ontvang het, in ag te neem. Die kommentaar uit daardie aanvanklike proses, asook die uitgebreide persoonlike gesprekke met individue en groepe in die dorp sedertdien, sal die toekoms en vorm van die voorgestelde projek bepaal,” sê hy.
Voorheen is berig die voorstel is dat ’n kabelkar-stasie op die wynplaas Haute Cabrière opgerig word. Die karretjie ry dan op ’n kabel van ’n kilometer lank tot bo by die Mont Rochelle-natuurreservaat.
Deel van die plan is dat daar ’n restaurant by die boonste kabelkarstasie gebou word.
Vroeg verlede jaar is met ’n proses van openbare konsultasie begin waarna plaaslike inwoners, asook natuur- en erfenis-groepe, hul kommer uitgespreek het oor die moontlike impak van die kabelkar op die omgewing.
5506





















