Die herrie rakende die voorgestelde naamsverandering van Port Alfred in die Oos-Kaap het verder uitgekring nadat die VF Plus voorgestel het dat dié kusdorp en die Kowierivier met dubbele benamings of erfenisbordjies erken word, sodat sowel die inheemse kultuur as die toerisme-identiteit behoue bly.
Dié voorstel en beswaar kom nadat die Oos-Kaapse komitee vir geografiese plekname (ECPGNC) 'n voorstel ontvang het om Port Alfred na iCawa of iCoyi en die Kowierivier na iQoyi te hernoem.
In 'n skrywe aan onder andere Christian Martin, voorsitter van die ECPGNC, benadruk die VF Plus die belangrikheid van toerisme en gevestigde gemeenskapsidentiteit.
"Port Alfred en die Kowierivier is plaaslik en internasionaal bekend as gesogte toerismebestemmings. 'n Naamsverandering kan jare se bemarking en beleggings in een slag ongedaan maak.
"Die verandering van die dorp en rivier se naam sal ook groot koste meebring wat klein ondernemings, toerisme-operateurs en die munisipaliteit nie kan bekostig nie. Dit kan ook toeriste verwar en ontmoedig, wat direk werksgeleenthede en inkomste sal raak," het Piet Mey, VF Plus-LPW en die party se leier in die Oos-Kaap, in 'n verklaring gesê.
Die ECPGNC het ook 'n voorstel ontvang om Alexandria na Nkosi Chungwa of eMnyameni te hernoem.
Die VF Plus meen die fokus in die streek behoort eerder te wees op dringende probleme soos watertekorte, swak paaie, werkloosheid, behuisingstekorte en stygende tariewe.
"Daar kan nie miljoene rande bestee word aan naamsveranderinge terwyl basiese dienslewering in duie stort nie," lui Mey se verklaring.
Martin het by navraag gesê die komitee erken die beswaar wat die VF Plus geopper het, maar dat die proses steeds voortduur.
" 'n Beswaar wat in dié stadium geopper word, word as voortydig beskou aangesien die proses nog nie afgehandel is nie. Geen finale beslissing is gemaak nie. Die saak is nog nie ‘ryp' om formeel betwis te word nie," het hy gesê.
Martin het ook gesê dat alle behoorlike prosesse, insluitend geleenthede vir publieke deelname en konsultasie soos uiteengesit deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name, noukeurig gevolg sal word.
LEES OOK | Graaff-Reinet se naam bly; Gayton ‘het nie obsessie' oor nuwe name
Hy het nie dadelik op Netwerk24 se vraag gereageer oor of 'n dubbele benaming moontlik is en of so iets voorheen al gedoen is nie.
Sibulele Ngongo, Oos-Kaapse LUR vir sport, kuns en kultuur, het verlede jaar aangekondig dat meer as 150 stede, dorpe, landelike gebiede, damme en lughawens in dié provinsie reeds nuwe name gekry het.
Volgens haar het 164 plekname in die provinsie reeds verander, wat die Oos-Kaap "aan die voorpunt van ander provinsies" plaas.




















