Een van drie leeus wat op vee om Glückstadt naby Vryheid in die noorde van KwaZulu-Natal jag gemaak het, is van kant gemaak.
Die leeu is Maandag van kant gemaak deur 'n span bestaande uit amptenare van verskeie staatsdepartemente en private organisasies, onder wie beroepsjagters met jaghonde, het Ezemvelo KZN Wildlife Dinsdag in 'n verklaring gesê.
Sihle Mkhize, uitvoerende hoof van Ezemvelo, sê die leeu is van kant gemaak nadat die jaghonde hom opgespoor het. Terwyl die honde die leeu se spoor gevolg het, het nog twee leeus verskyn 'n ent van waar die gewapende span stelling ingeneem het.
Nog 'n leeu het te voorskyn gekom toe die honde dié twee leeus begin volg het. Die honde het hul aandag na dié leeu verskuif, wat die jagters in staat gestel het om hom van kant te maak, sê Mkhize.
Volgens hom het die ander twee leeus die bosse in gevlug, wat die span genoop het om die soektog te staak totdat hulle weer bespeur word.
Die leeus het glo vee van plaaslike gemeenskappe gevang. Mkhize moedig inwoners aan om hul vee saans op kraal te hou om verdere verliese te voorkom.




















