Geen eiendom was Dinsdagmiddag in gevaar weens ’n brand by Deer Park in die Tafelberg Nasionale Park nie.
So sê Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstad-metro se brand-en-reddingsdienste.
Dit het Dinsdagmiddag uitgebreek en rook kon van die middestad gesien word.
Geen beserings is aangemeld nie, sê Carelse.
’n Helikopter is gestuur om te help met brandbestryding vanuit die lug. Die brand-en-reddingsdienste het ’n sentrum op die been gebring om hulpbronne en ontplooiing te koördineer.
Sanparke het Dinsdagmiddag in ’n kort verklaring gesê Tafelbergweg en die Platteklipkloofroete is tydelik gesluit.
“Die park het ook grondspanne ontplooi in reaksie op die veldbrand. Die brand beweeg tans in die rigting van Duiwelspiek en versprei vinnig weens uiterste hitte en lae humiditeit.
“Toegang tot die Tafelberg-kabelkar via Tafelbergweg bly in die stadium oop, behalwe vir die gedeelte van die pad anderkant die ablusiegeriewe,” lui die verklaring.
“Ons doen ’n beroep op alle besoekers en stappers om die geraakte gebiede te vermy. Volg die instruksies van noodpersoneel.”





















