Brandbestryders van die Tshwane-metro vorder met die bestryding van ’n brand op die Magaliesberg en in dié stadium word huise nie meer bedreig nie.
“Ons het daarin geslaag om ’n gedeelte van die brand aan die Waverley- en Villieria-kant van die berg in bedwang te bring. Brandbestryders is egter nog hard aan die werk in die gebiede van Montana en Wonderboom-Suid,” het Peter Mashikinya, adjunkhoof van die Tshwane-nooddienste, laat Sondagaand gesê.
“In hierdie stadium lyk dit nie asof die brand meer ’n bedreiging vir huise inhou nie,” sê Mashikinya.
Hy het vroeër gesê die brand is omstreeks 17:02 aangemeld, en dat dit vinnig versprei het.





















