Aktueel

Koue, g’n krag knou Gauteng

Tegnici herstel ’n foutiewe kragkabel by die Mayfair-substasie in Johannesburg.
Tegnici herstel ’n foutiewe kragkabel by die Mayfair-substasie in Johannesburg. (City Power)

Dele van Gauteng gaan Dinsdag gebuk onder koue eendeweer sowel as kragonderbrekings.

City Power, Johannesburg se nutsdiens, het teen middagete gesê hy gee aandag aan minstens 3 682 individuele kragonderbrekings op sy netwerk. Verskeie gebiede sit al ure lank sonder krag terwyl tegnici spook om die infrastruktuur te herstel.

Die koue weer plaas volgens City Power enorme druk op die netwerk weens ’n groter vraag na elektrisiteit vir verwarmers en ander toestelle. Nat grond bemoeilik terselfdertyd uitgrawings en kabelherstelwerk.

Die Hursthill-diensleweringsentrum het die meeste oproepe wat aandag verg, met 1 425 wat deur die loop van die oggend ontvang is.

Gelukkig is sowat 75% van die toevoer vanaf die Delta-substasie na Parkwood, Northcliff, Sophiatown, Brixton, Fairland, Linden, Parkhurst en omliggende gebiede teen laatoggend herstel, sê die nutsdiens. Tegnici gaan voort om die oorblywende probleme uit te stryk.

Die Fort-, Ridge- en Braamfontein-substasie is egter steeds buite werking nadat die 88kV-lyn vanaf die Delta-substasie uitgeskakel het. Dit raak Hillbrow, Braamfontein, die Nelson Mandela-kinderhospitaal, Wits se Parktown-kampus en omliggende gebiede.

City Power sê die gure weer vertraag herstelwerk in sommige gebiede.

Die nutsdiens doen ’n beroep op inwoners om elektrisiteitsverbruik te verminder, veral in spitstyd soggens tussen 05:00 en 09:00 en saans tussen 17:00 en 21:00. Inwoners word verder versoek om liefs nie toestelle met swaar kragverbruik gelyktydig te gebruik nie.

In Pretoria is dit ’n triestige dag met wolke wat oor die stad hang.
In Pretoria is dit ’n triestige dag met wolke wat oor die stad hang. (Quinton Lourens)

Herstelwerk by die Bellom-substasie in Pretoria vorder fluks, sê die Tshwane-metro. Kragtoevoer na die sakekern, Uniegebou, Arcadia, Sunnyside, Hatfield, die Steve Biko- akademiese hospitaal en omliggende gebiede is teen die middag herstel nadat die substasie vroeër uitgeskakel het.

Die metro sê pogings duur voort om die toevoer na die River-substasie, wat onder meer krag aan Clydesdale en Loftus verskaf, te herstel.

Van die os op die jas: Trek jou kinders warm aan, vra LUR

Lebogang Maile, LUR vir onderwys in Gauteng, vra ouers en voogde om behoorlike voorsorg te tref.

Sy departement verwag die gure weer sal vandeesweek in Johannesburg en omliggende gebiede, waaronder Roodepoort, Randburg en Soweto, voortduur. Die Ekurhuleni- en Tshwane-metro word ook geraak.

Lebogang Maile, LUR vir onderwys in Gauteng.
Lebogang Maile, LUR vir onderwys in Gauteng. (Argief)

Maile sê gesonde leerlinge moet aanhou skool bywoon mits dit veilig is om daarheen te reis en die departement nie anders aandui nie.

Hy vra ouers en voogde om te sorg dat hul kinders warm aangetrek is. Maile het leerlinge terselfdertyd gewaarsku om nie vure op skoolterreine te maak nie.

Die departement sal voortgaan om die Suid-Afrikaanse Weerdiens se amptelike voorspellings, waarskuwings en advies te monitor, sê hy.

Moenie nou laat wiel, vra regering

Lindiwe Mnguni, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in die Ekurhuleni-metro, vra motoriste om meer bedagsaam op die nat paaie te wees.

Dit volg nadat 11 mense Dinsdagoggend in ’n ernstige botsing op die R59 in Alberton beseer is. Ses mense moes in die hospitaal behandel word.

Elf mense is Dinsdagoggend in ’n botsing op die R59 in Alberton beseer.
Elf mense is Dinsdagoggend in ’n botsing op die R59 in Alberton beseer. (Verskaf)

Mnguni maan motoriste om stadiger te ry, hul volgafstand te verdubbel, hoofligte aan te skakel en hul volle aandag op die pad toe te spits.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die nasionale regering het ook afsonderlik Dinsdag by motoriste gepleit om veiligheid eerste te stel.

Cogta sê motoriste moet op ’n veilige plek stilhou wanneer sigbaarheid op die pad beperk raak en wag totdat die weer opklaar. Die regering herinner mense daaraan dat dit beter is om reisplanne uit te stel en tuis te bly.

– quinton.lourens@media24.com