Met weerkenners wat waarsku teen 'n droë en warm lente wat kan voorlê, gaan die Vaaldam vol gehou word tot die begin van die somer, het die departement van water en sanitasie (DWS) bekend gemaak.
Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement, sê hulle het die besluit geneem op grond van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se Seasonal Climate Watch-voorspelling vir Augustus tot Desember, wat dui op 'n dreigende droogte teen die einde van die lente.
Luidens die departement se verslag word voorspel dat groot dele van die land ondergemiddelde reënval en bogemiddelde temperature kan verwag. Dit dwing die departement om die Vaaldam vol te hou in die komende paar maande.
LEES OOK | Lente bring warm en droë dae, waarsku weerdiens
Mavasa het aan Netwerk24 gesê die departement werk nou saam met verskeie owerhede, soos die weerdiens, plaaslike munisipaliteite en nooddienste, om "te verseker die publiek bly voortdurend ingelig oor die stand van sake".
"Daar gaan deeglike beplanning in die bestuur van die dam in en hulle is voorbereid op enige situasie en onderneem om dit ook gereeld so te kommunikeer," sê sy.
Mavasa sê omdat weerverskynsels wisselvallig is, waarsku die weerdiens ook dat die situasie kan verander en plaaslike owerhede en inwoners moet verseker dat hulle gereeld betroubare inligting raadpleeg en fopnuus vermy.
"Dit is belangrik om voorbereid te wees, en daarom wil ons almal aanraai om nou al voorbereidings te tref vir die moontlikheid van waterskaarstes."
Volgens die departement is die Vaaldam tans 106,3% vol vergeleke met 106,5% verlede week.
"Die dam stoor tans sowat 2,57 miljard kubieke meter water. Die hoë watervlakke in die dam en in ander reservoirs weerspieël die buitengewone reënseisoen vroeër die jaar. Dit is dus belangrik dat ons ook gereed moet wees vir die moontlikheid van 'n droogte."
Die Vaaldamstelsel speel 'n belangrike rol in die verskaffing van water in Gauteng en die Vrystaat en volgens Mavasa funksioneer dié stelsel steeds op 'n "gesonde kapasiteit van 101%". Die Grootdraaidam is 99,4% vol en die Sterkfonteindam het die afgelope week op 99,3% gestaan.
GRAFIKA | Die damvlakke in jou provinsie
Wees waterwys:
Mavasa het mense gemaan om nou al spaarsamig te wees met water en te verseker dat elke huishouding gereed is vir tekorte.
"Die DWS prioritiseer waterverskaffing aan huishoudings, maar dit is belangrik om ook voorsiening te kan maak vir boerderye en nywerhede. Daarom wil ons mense aanraai om slim te werk te gaan en nou al die gewoonte aan te leer om nie onnodig water te gebruik nie."
Wat kan jy doen?
- Maak seker alle krane in en om jou huis is deeglik toegedraai.
- Wees bedag op moontlike lekkasies.
- Herwin water. Gebruik bad- en skottelgoedwater om byvoorbeeld plante nat te maak, toilette te spoel of voertuie te was.
- Stort eerder as om te bad.
- Moenie toilette onnodig spoel nie.
- Stoor water. Wanneer dit reën, maak seker dat jy emmers water opgaar vir noodgevalle.
Besoek www.gov.za vir meer wenke.





















