Dit is tyd om die lang pad te vat - Namakwaland het begin blom.
Die Namakwa Nasionale Park het reeds oranje begin kleur ná die goeie reënval sedert Maart, en die gereelde opvolgreën en genoeg koue en sonnige dae tussenin het die ideale toestande vir die blomseisoen geskep.
Sanparke sê in 'n verklaring die weerstoestande skep die perfekte omgewing vir vroeë ontkieming, veral van die madeliefie-spesies.
Blomme het oor die park heen begin oopgaan, hoewel dit in sekere dele nog kol-kol is.
Volgens Sanparke is die Skilpad-gebied se blomme besig om te ontwaak en is die viertrek-roete, insluitend Wildeperdehoek en Kookfontein, klaar baie kleurvol.

As die gunstige weerstoestande só voortgaan, kan besoekers in die volgende paar weke 'n drastiese transformasie van die streek verwag.
Wat nog beter nuus is, is dat 'n lang blomseisoen verwag kan word as die koue weer en reën deur warmer dae opgevolg word. Daar kan dan selfs deur September heen 'n fees van blomme wees.

Genevieve Maasdorp, Sanparke se kommunikasiebestuurder vir die Noord-Kaap, sê die Augustus-winde moet net nie verkeerd waai en probleme veroorsaak nie.
Sy sê in die Namakwa Nasionale Park kan 'n mens op die uitkyk wees vir onder meer bittergousblomme, heuningblomme, geelsneeu en talle soorte vygies.
Benewens goeie geselskap, padkos en verblyf het 'n mens 'n warm baadjie nodig, sê Maasdorp.




















