’n Blaaskans ná die erge neerslae wat groot dele in die noorde van die land die afgelope paar weke geteister het, word oor die volgende paar dae verwag.
Dit lyk nie tans of enige beduidende reënval oor die noorde van die land (die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, Gauteng en KwaZulu-Natal) verwag word nie, sê Michelle du Plessis, meteoroloog van Vox Weather.
“As ons na die komende week se voorspellings kyk, lyk dit ook nie of daar enige ernstige vloedgevare is oor die volgende sowat vyf dae nie,” sê sy.
Du Plessis benadruk dat hoewel langtermynvoorspellings nie 100% akkuraat is nie, meen weerkenners dat daar vandeesweek ’n beduidende afname in reënval sal wees, met die uitsondering van dele van Limpopo wat in die verre noordweste “tot sowat 15 mm oor die volgende drie dae kan kry”.
“Ons wil nie te ver vooruit voorspel nie, want die betroubaarheid raak swakker hoe verder ’n mens in die week kyk, maar dit blyk dat die reën wat wel oor die volgende dae verwag word, meestal lig en geïsoleerd sal wees – hoofsaaklik sowat 5 mm.”

Daar is wel die moontlikheid van ’n “bietjie reën” oor die binneland van KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat, die ooste van die Oos-Kaap, die ooste van Noordwes en dele van die Hoëveld.
Swaarder reënval word egter steeds verwag oor die verre noordweste van Limpopo, wat teen Sondag sal begin opklaar, sê Du Plessis.

“Verder vorentoe begin die kans op donderbuie weer van Dinsdag af toeneem namate ’n oppervlaktrog versterk,” sê sy.
“Dit kan swaarder reënval van Dinsdag af oor dele van die Oos-Kaap veroorsaak, wat teen Woensdag na dele van die Vrystaat en Noordwes kan uitbrei.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het tot dusver geen ernstige waarskuwings vir die komende naweek uitgereik nie, maar wel ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik oor potensieel skadelike wind soggens aan die kus tussen Port Edward in die suide van KwaZulu-Natal en KwaDukuza noord van Durban.

Die weerdiens voorspel dat dit Vrydag hoofsaaklik sonnig en warm oor die weste van die land sal wees, andersins gedeeltelik bewolk en koel tot warm met geïsoleerde buie en donderbuie, maar verspreid in die noordweste van Limpopo.
Dié toestande sal Saterdag en Sondag voortduur. Die weerdiens verwag sonnige toestande in die weste en die sentrale dele van die land, andersins gedeeltelik bewolkte toestande.
Oor die ooste van die land word warm tot baie warm toestande verwag, met die moontlikheid van geïsoleerde buie en donderbuie.






















