Omgewing

Dís hoekom mense ‘groen flits’ sien met sononder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wanneer die atmosfeer soos 'n prisma sowel as 'n lens optree, kan 'n rare groen flits in die lug verskyn. Dit verduidelik die verskynsel wat inwoners van Worcester in die Wes-Kaap Sondagaand gesien het.

Ashleigh Elbring (31) sê sy was daarvan oortuig dat "ons einde gekom het" toe sy en haar suster, Hayley (29), omstreeks 20:00 die helder groen kleur in die lug sien. Sy vergelyk dit met die noorderlig wat soms in Noorweë te sien is.

"Alles het so vinnig gebeur," sê sy. "Een oomblik staan en gesels ek en my sussie en die volgende oomblik was daar eers 'n ronde flits en toe versprei die groen en geeloranje lig oor die hemele. Dit was so vinnig, maar ek het nog nooit ooit so iets in my lewe gesien nie. Ek was bang, niks omtrent dit was vir my mooi nie want dit is nie hoe die lug veronderstel is om te lyk nie. Ek is bly ek was nie alleen nie."

Sy sê die kragtoevoer by haar huis het ook afgegaan toe sy die flits sien. Dit was te vinnig verby vir haar om 'n foto daarvan te neem.

Daar is egter niks om te vrees nie, sê dr. Pieter Kotzé, afgetrede navorsingsgenoot by die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap en buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit.

"Die groen flits is welbekend en vind plaas by sonsondergang wanneer die atmosfeer soos 'n prisma sowel as 'n lens optree. Dit is beperk tot 'n gebied net bokant die son."

Hy verwys na 'n artikel deur die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap wat lui dat waarnemers van die groen flits 'n onbelemmerde uitsig oor die horison moet hê en dat die lug helder moet wees.

"Die groen flits is 'n verskynsel wat by sonsondergang en sonsopkoms voorkom wanneer die toestande gunstig is, en ontstaan ??wanneer twee optiese verskynsels kombineer: 'n lugspieëling en die verspreiding van sonlig," lui die artikel.

Die Amerikaanse ruimte-agentskap, Nasa, se webtuiste lui dat daar vroeër gedink is die "groen flits" is 'n mite.

"Verskillende atmosferiese lae skep 'n breking wat lig van die bokant van die son neem en sy kleure versprei, twee beelde skep en dit op net die regte manier vergroot om 'n dun strokie groen te laat verskyn, voordat dit weer verdwyn," lui die webtuiste.

Volgens Space.com dateer die eerste verwysings na 'n groen flits terug na ongeveer 160 jaar gelede toe 'n man, ene W. Swan, 'n "smaraggroen flits" tydens 'n sonsopkoms gesien het.