Omgewing

Gille, geswets toe dikke luislang soetdoringboom bestyg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis nie net boomslange wat deur die blare kan wees nie.

Wanneer die benoudheid in jou vier meter lange lyf klim terwyl nuuskierige tweebene met ronde ogies na jou staar, kan selfs 'n dikke van lyf takke toe rek.

Dis blykbaar presies wat gebeur het toe 'n bielie van 'n luislang 'n soetdoringboom in die Vryburg-omgewing bestyg het.

Die boer op wie se plaas die swaargewig nes geskop het, het dié aanskoulike akrobatiese gedrag vroeër vandeesmaand afgeneem. Hy het gevra dat sy naam en die presiese ligging van die plaas nie gepubliseer word nie omdat hy vrees mense kan na die plaas kom en die slange probeer vang.

"Luislange word byvoorbeeld vir moetie doodgemaak."

Die boer vertel hulle sien gemiddeld so een keer per jaar luislange op die plaas. Hy en twee van sy werkers was op 10 Julie vroegmiddag op pad om 'n windpomp te gaan regmaak toe hulle die lang, vet luislang in die pad sien lê.

"Ons vermoed dit was 'n wyfie. Daar was twee kleiner luislange naby, vermoedelik mannetjies wat haar wou bevrug."

Die boer het huis toe gery om sy gesin te gaan haal sodat hulle ook die luislang kon sien. Kort nadat hulle teruggekom het, het die slang koers gekies na die boom toe.

Op video's van die slang in die pad en terwyl "sy" boom klim, kan verbaasde geluide, gille en selfs 'n geswets in die agtergrond gehoor word.

"Ek was geskok," het die boer Woensdag vertel. "Ons was nie baie bang nie, 'n mens moet net nie te naby gaan nie. Die slang het 'n uur nadat sy in die boom opgeseil het nog daar gelê. Sy het waarskynlik bedreig gevoel deur die baie mense wat haar bekyk het."

In Augustus verlede jaar het die boer ook 'n video gemaak van luislange wat inmekaargestrengel is, vermoedelik aan die paar.

"Ons sien die slange in kaal kolle naby meerkatgate lê. Hulle kruip in meerkat- en erdvarkgate in. Verlede jaar het ons sewe ystervarkpenne uit 'n luislang getrek nadat ons hom gevang het. Ek weet nie of hy oorleef het nie."

Die luislang het vermoedelik sku geword vir die mense wat haar so bekyk het en teen die boom opgeseil.  Skermgreep: Verskaf
Die luislang het vermoedelik sku geword vir die mense wat haar so bekyk het en teen die boom opgeseil. Skermgreep: Verskaf

Dié luislange kan tot 5 m lank word

Jason Seale, direkteur van die Hartbeespoortdam Slang-en-dierepark in Noordwes, sê dis nie moontlik om op grond van die video's wat die boer verskaf het, die slang se geslag te bepaal nie.

"Dis 'n Suider-Afrikaanse luislang. Hulle kan tot 5 m lank word en sowat 60 kg weeg. In Suid-Afrika paar hulle tipies in Augustus, maar alles hang van die omgewing en temperature af. Dit kan dus ook vroeër gebeur, veral indien dit vroeër al warmer begin raak."

Seale skat die slang in die onlangse video is omtrent 4 m lank en sê die dikte is normaal vir 'n luislang van dié grootte. Dit dui dus nie noodwendig daarop dat die slang dragtig is nie. Hy stem saam dat die dier moontlik in die boom opgeseil het omdat hy of sy (van die mense) wou wegkom.

"Luislange is geneig om ondergronds te leef. Die wyfies skei 'n reuk af wat die mannetjies lok om te paar wanneer hulle gereed is. Die eiers word teen Oktober of November gelê en broei 60 tot 90 dae later uit."

Soos met enige ander slange sal 'n luislang mense nie sommer aanval tensy hulle bedreig voel nie. Seale se raad is om net 'n goeie afstand te hou en hulle uit te los. "Moet hulle nie probeer vang of met hulle speel nie."

Hoewel 'n luislang nie giftig is nie, het hulle tot 144 vlymskerp tande wat ernstige wonde kan veroorsaak wat selfs steke kan benodig.

Veilig in die soetdoringboom. Skermgreep: Verskaf
Veilig in die soetdoringboom. Skermgreep: Verskaf

"Daar is geen opgetekende gevalle in Suid-Afrika van luislange wat mense as prooi geteiken het nie," sê Seale.

"Hoe groter die slang, hoe groter sy prooi. Dit kan wissel van muise, hase, voëls en dassies tot ander soogdiere soos honde en bokke. Die slang sal sy tande tipies gebruik om die prooi te byt en te anker terwyl hy hom daarom draai en dit versmoor. Die slang druk nie eintlik bene stukkend nie. Hy kou nie sy prooi nie en sluk dit heel in."

Seale sê slegs die netvormige luislang (Malayopython reticulatus), wat in Suidoos-Asië voorkom, is bekend daarvoor dat hulle al mense gevang en geëet het, maar dis so ongewoon dat dit hoofopskrifte haal.

"Dié luislange is dubbeld so groot as die Suider-Afrikaanse luislang en is sover bekend die langste slang ter wêreld."

Luislange is geneig om in dieselfde omgewing te bly. Hoewel hulle meer aktief is in die somer, kan hulle in die winter steeds uitkom om son te soek.

susan.cilliers@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM