Omgewing

Gqeberha-strand gesluit ná 2de rioolstorting binne kort tydjie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Plas riool het Woensdag op Koningstrand in Gqeberha gelê. Dit is die tweede keer in minder as ’n maand dat die strand gesluit is weens ’n rioolstorting.  Foto: Lulama Zenzile
’n Plas riool het Woensdag op Koningstrand in Gqeberha gelê. Dit is die tweede keer in minder as ’n maand dat die strand gesluit is weens ’n rioolstorting. Foto: Lulama Zenzile

Koningstrand, een van Gqeberha se gewildste strande in Humewood, is 'n tweede keer in minder as 'n maand gesluit weens 'n rioolstorting.

Sean Tappan, wyksraadslid, het Donderdag in 'n verklaring gesê die nuwe storting volg op swaar reën oor die afgelope naweek.

"Dit was ten spyte van voortgesette vloeibeheermaatreëls deur middel van omleidingspompe in die hawe. Die storting is teen Donderdag onder beheer gebring. Die geraakte gebied word tans skoongemaak en behandel om die E. coli-vlakke te verlaag en die stank te beperk," lui die verklaring.

Tappan se verklaring volg ná 'n munisipale aankondiging Woensdagaand dat die strand gesluit is weens die rioolstorting.

Vroeg in Julie is Koningstrand ook gesluit nadat 'n rioolpypleiding in Suideinde gebars het. Dit het daartoe gelei dat riool in die stormwaterstelsel beland het wat op Koningstrand uitloop, het Netwerk24 berig.

Toe Netwerk24 Woensdagoggend die strand besoek, het dit gelyk asof die lekkasie onder beheer gebring is, hoewel daar steeds 'n klein plas riool op die strand sigbaar was.

Tappan sê dat die kontrakteur op die terrein opdrag gekry het om, in afwagting op verdere reën, 'n bykomende omleidingspomp aan te skaf om verhoogde stormwatervloei te hanteer en verdere stortings te voorkom.

'n Tweede kontrakteur het die terrein Woensdag besoek om die situasie te evalueer en met herstelwerk te begin. Wat aanvanklik as plaaslike herstelwerk beplan is, het egter uitgebrei weens verdere lekkasies uit die rioolpyp, sê Tappan.

Koningstrand in Gqeberha is 'n tweede keer in 'n maand gesluit.   Foto: Lulama Zenzile
Koningstrand in Gqeberha is 'n tweede keer in 'n maand gesluit. Foto: Lulama Zenzile

"Die oorspronklike plan, wat spesiale ontwateringstoerusting van Kaapstad vereis het - wat eers teen 13 Augustus beskikbaar sou wees - sou die proses aansienlik vertraag het. Dus is daar besluit om van alternatiewe tegnologie gebruik te maak om die herstelwerk te versnel."

Volgens Tappan het die nuut aangestelde kontrakteur bevestig dat die nodige pype reeds beskikbaar is en dat die werk na verwagting binne twee tot drie weke voltooi sal wees, mits daar geen verdere probleme gedurende die uitgrawing opduik nie.

Dr. Gary Koekemoer, voorsitter van die Natuurlewe-en-omgewingsvereniging van Suid-Afrika (Wessa) in die Oos-Kaap, sê by navraag dat voortgesette stortings ernstige gevolge vir die munisipaliteit kan inhou indien hy om blouvlagstatus aansoek doen.

Die munisipaliteit het reeds vir Koningstrand, sowel as Hobie-strand, om blouvlagstatus aansoek gedoen. Hierdie statusse is egter weerhou.

"Ons het ons kommer by die munisipaliteit geopper. As daar voortdurende rioolstortings is, is dit onwaarskynlik dat hulle blouvlagstatus sal kry."

Intussen bly die Brighton-strand ook gesluit weens rioolstortings. Netwerk24 het berig die metro het in Desember gesê die strand word tydelik gesluit "weens uitdagings by die (nabygeleë) Fishwater Flats-watersuiweringsaanleg wat hoë vlakke van E. coli veroorsaak het".

- kyran.blaauw@media24.com

mailto:kyran.blaauw@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM