Omgewing

Groot dele van Noord-Kaap knak weer onder droogte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skape word weer op verskeie plase in die Roggeveld- en Bo-Karoo gevoer nadat droogtetoestande hier weer posgevat het.
Skape word weer op verskeie plase in die Roggeveld- en Bo-Karoo gevoer nadat droogtetoestande hier weer posgevat het. (Foto: Anena Burger)

Vroegoggend op die tweede dag van die nuwe jaar slaap niemand laat op plase in die Roggeveld nie. Dieselbakkies luier reeds terwyl sakke en emmers voer gelaai en watertenkers gevul word. Dit sal binnekort na die skape in die kampe aangery word.

Die ooie met hul jong lammers beweeg ook nie ver van die rivierbeddings af weg nie en hou maar naby aan die krippe en die voerbakke.

’n Skaaphond sit in ’n koeltekolletjie agterop haar oubaas se bakkie terwyl sy wag dat die vrag klaar gelaai word. Daar sal nie vandag skape bymekaargemaak word nie, want die skape hardloop sommer self agter die bakkie aan vir kos en water.

Die veld, wat in die vorige seisoen grasgroen en vol veldblomme was, is nou asvaal en dor. ’n Drukkende, droë hitte met ’n warm bries is in die lug. ’n Teken dat die ou “selfdoodwind” in die namiddag weer groot warrelwinde gaan optower.

Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie, maar dit hang af of daardie warrelwind gaan wys of die hemel se krane oop- of toegedraai gaan word. As hulle kloksgewys warrel, draai die krane toe, as hulle antikloksgewys draai, doen die noordewind haar ding, en kan daar dalk net goeie nuus kom.

Tot dusver draai die warrelwinde verkeerdom.

“Ons kry klokslag elke jaar op Kersdag reën – vanjaar niks. Ek gee dit nog één winter, dan is ek uit as iets nie nou verander nie,” mor Willem Burger van die plaas Skansboom.

Sy kudde is maar halfpad herstel ná die lang droogte wat die Noord-Kaap vir agt jaar verlam het en nou heers daar weer droogtetoestande.

Hy sê die laaste noemenswaardige reën wat hy ontvang het, was sowat 12 mm, wat daarna deur sowat 3 mm opgevolg is. “Dit beteken nie veel op hierdie hardeveld nie. As ek geweet het wat ek nou weet, het ek nooit die ramme by die ooie gesit nie.”

Dit is ’n vreemde somerseisoen vir die Vrystaat en die Noord-Kaap. In die Vrystaat en noordoostelike dele van die Noord-Kaap is dit sopnat, maar daar is groot dele van die Noord-Kaap wat dors ly.

Natuurlik is reën altyd welkom, maar dit kom ook met siektes. Wat het nie alles al oor die afgelope maande hier uitgebreek en gebroei om boere se nerwe klaar te maak nie. Bek-en-klou, miltsiekte, slenkdalkoors en knopvelsiekte. Wie weet wat volgende in die ry staan en die veeartsenyrekeninge hoop op, wat nog te praat van voerrekeninge.

“Ja, elke weerstoestand kom met sy eie siekte,” sê Burger terwyl sy linkerelmboog by die bakkie se venster uithang. Daar word selfs voer vir die droogte-geharde gemsbokke aangery.

Hester Obermeyer, ’n boervrou wat 30 km buite Sutherland in die rigting van Fraserburg boer, sê daar is ’n droogtebelt van die Noord-Kaap tot in die Oos-Kaap.

“Groot dele van die somerreënvalstreek van die Karoo word geraak. Ons laaste noemenswaardige reën was maar sowat 16 mm en ons het slegs 42 mm vir die jaar ontvang,” sê sy sonder om in ’n boekie te kyk. Sy ken die syfers op haar vingerpunte.

Daar is ook nuwe kommer nadat E-coli onder boere van Williston en ook Sutherland se skape uitgebreek het. “Dit gebeur omdat boere moet voer en water gee, met die samedromming van die vee by die suipings. Dan moet boere hiervoor ook inent.”

Obermeyer sê nege vragte aartappels kon al tot dusver afgelewer word om boere in droogtenood by te staan.

Naudé Pienaar, ’n koördineerder vir Manna vir die Boere, sê hulle het Vrydag voer vir boere in Williston afgelaai en nog voer word Maandag na dié Karoo-dorp gestuur.

Obermeyer sê ’n waterkrisis heers ook. “Die ondergrondse watertafels het nog nie ná die lang droogte herstel nie. Met die lang droogte het dit vier jaar geneem voordat die boorgate opgedroog en die pompe begin uitklim het. Ons is nou maar ’n jaar in hierdie droogte en ons is reeds weer by daardie punt.”

Sy vertel hoe beroerd dit ook in Laingsburg en Prins Albert gaan. “ ’n Boer van Laingsburg wat gisteraand (Donderdag) hier gekuier het, vertel sy bloekombome is besig om te vrek. ’n Bloekom vrek nie sommer nie, dit is ’n bewys dat die watertafels gedaan is.”

Obermeyer sê baie boere van die omgewing neem egter nou ander besluite oor die bestuur van hul kuddes ná die lesse wat hulle uit die vorige uitmergelende droogte geleer het.

“Baie het besluit dit is beter om hul vee vroeg genoeg na die markte te neem en eerder ’n kernkudde te hou waarmee hulle sal voortbou as die toestande verbeter. Hulle kan dit nie bekostig om weer dieselfde enorme verliese te ly nie.”

Pienaar sê Manna vir die Boere doen sy bes om voer- en vervoerskenkings te bekom en dit so kostedoeltreffend as moontlik aan die boere te lewer. “Ons werk ook nou saam met gemeenskapsleiers om te verseker dat die voer boere en gebiede bereik wat dit broodnodig het.”

– anena.burger@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM