Daar is min dinge wat 'n boer se gebreekte gemoed so kan herstel soos wanneer milde reën uiteindelik tydens 'n uitmergelende droogte oor die dorre aarde uitsak.
Groot glimlagte langs reënmeters in die bruingebrande hande van Kalahari-boere is Vrydagoggend vroeg reeds op sosiale media gedeel nadat welkome reën oor 'n wye gebied in die Kalahari uitgesak het.
Die blydskap op Gerdus Schoeman, van die plaas Belgravia by Black Rock in die Kalahari, was duidelik sigbaar nadat 50 mm reën Vrydagoggend daar uitgesak het.

Maar voordat die reën uitgesak het, is daar hard gehoop en gebid dat die swaar wolke wel hul las oor die gebied sal uitstort en dat dit nie deur wind weggewaai sal word nie.
Daar is sedert Kersdag baie gebid vir lafenis terwyl donker wolke mooi oor die droogste dele van die provinsie saamgepak het, maar dit nie noodwendig gereën het nie.
Sommige dorpe soos Upington, langs die Oranjerivier, en Brandvlei en Pella in die Boesmanland het wel op Kersdag en Welwillendheidsdag 'n welkome bui reën gekry, terwyl ander nog hoopvol na die hemele gestaar het.
Boere in die Kalahari, Boesmanland, Hantam, Namakwaland en die Sentraal-Karoo gaan weer onder erge droogtetoestande gebuk en moes weer in die laaste paar maande hul diere begin voer.
Verskeie organisasies, soos AfriForum, Boere Droogtehulp SA en Save the Sheep, help al die laaste paar maande boere in dié onderskeie distrikte met broodnodige voer waar hulle kan.

Lothar Stadler, 'n Kalahari-boer van die plaas Loch Maree naby Askham, was Vrydag verheug toe sy twee kleuters, Lisa (4) en haar boetie, LJ (3), nog in hul nagklere heerlik in die waterplasse baljaar het.
"Dit het laat gisteraand begin reën en ek is so dankbaar vir die 14 mm wat ons ontvang het," sê Stadler.
"Ek was al met die stoel en 'n tou op pad na die dak toe," skerts hy toe Netwerk24 bel.

Maar in werklikheid is dit geen grap nie.
Stadler sê in 2023 het hy slegs sowat 20 mm reën op die plaas gekry teenoor 2022 se sowat 65 mm reën.
"Ons moet tussen 150 mm en 200 mm reën per jaar in die Kalahari kry. Ons is reg as ons darem 150 mm ontvang."
Sybil Visagie van die organisasie Save the Sheep wat tydens die langdurige droogte op Sutherland op die been gebring is, sê as gevolg van die ongelooflike hittegolf en sterk, warm wind het die veld in die Hantam en die Roggeveld-Karoo, die Boesmanland, Namakwaland en die Sentraal-Karoo-streek geweldig vinnig afgeneem.
"Dit veroorsaak dat die weiding baie vinnig verswak en onvoldoende is vir volhoubare voeding vir die vee."
Sy sê in die droogste deel van Kenhardt het daar slegs sowat 4 mm uitgesak. Dit is ook die geval in die Sentraal- en Roggeveld-Karoo, wat Sutherland, Williston, Fraserburg, Vanwyksvlei, Brandvlei, Loeriesfontein en die Carnarvon- tot Loxton-gebied insluit.
"Boere hier het nou geweldig baie ondersteuning nodig. Hoewel daar twee jaar gelede goeie reën uitgesak het en dit wel gelyk het asof die droogte dalk gebreek is, is ons steeds in 'n geweldige droë siklus gewikkel. Die wêreld hier om ons is gitswart gebrand."

Visagie sê Save the Sheep en Karoo Calling sowel as verskeie ander organisasies werk hul vingers se nerwe af om broodnodige hulp vir boere in te samel terwyl daar reeds 'n moeilike ekonomiese toestand in die land is.
Sy doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die boere steeds in hul gebede te hou en sover hulle moontlik kan, die landbou te ondersteun.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het nog milde reën vir Vrydag oor groot dele van die Vrystaat en die oostelike dele van die Noord-Kaap voorspel.
Die weerdiens het 'n waarskuwing uitgereik oor erge donderstorms wat tot oorstromings kan lei. Groot haelneerslae kan oor die noordoostelike en suidoostelike dele van die Noord-Kaap verwag word.
In die Vrystaat sal dit bewolk en warm wees met reënval en donderstorms wat op plekke sal voorkom.
- anena.burger@24.com


















