Omgewing

KZN gereed vir rampe weens gure weer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eerw. Thulasizwe Buthelezi, Cogta-LUR
Eerw. Thulasizwe Buthelezi, Cogta-LUR (Foto: Verskaf)

Rampbestuurspanne in KwaZulu-Natal is slaggereed vir noodgevalle indien gure weer verwoesting sou saai.

Luidens ’n verklaring van die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) hou die provinsiale rampbestuursentrum saam met munisipaliteite, provinsiale departemente en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap die weerstoestande fyn dop.

Die Weerdiens het gewaarsku dat die westelike dele van die provinsie onder sterk winde, weerlig en swaar neerslae kan deurloop wat tot oorstromings kan lei. Die gure weer sal na verwagting tot Maandag duur.

Eerw. Thulasizwe Buthelezi, Cogta-LUR, verseker inwoners dat rampbestuurspanne op bystand is om blitsig op enige voorvalle te reageer. Hy versoek veral diegene wat in laagliggende gebiede woon om waaksaam teen stygende watervlakke te wees.

“Ons prioriteit is die veiligheid van alle inwoners en ons doen ’n beroep op gemeenskappe om versigtig te wees, veral in gebiede wat geneig is tot oorstromings.”

Motoriste word aangeraai om versigtig te reis, nie oor lae brûe te ry nie en om hul spoed in die nat toestande te verminder.

Gemeenskappe word aangemoedig om weerverwante noodgevalle by hul naaste munisipale rampbestuursentrums aan te meld.

Intussen was die hemele se krane in dele van Gauteng en Limpopo ook wawyd oopgedraai. Dit het vroegmiddag op die N1 tussen Bela-Bela en Pretoria swaar gereën.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM