Omgewing

‘Laat Opal die orangoetang vry,’ eis diereaktiviste in KZN

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
KYK | "Beter samewerking kan dierelewens beter maak" (thapelo.mofokeng@media24.com)

Opal die 45 jaar oue orangoetang noem die Natal-dieretuin in Pietermaritzburg al haar lewe lank huis, maar aktiviste meen sy kan ’n beter gehalte lewe elders hê.

Die diereregteorganisasie Ban Animal Trading (BAT) eis dat Opal deur onafhanklike veeartse en dierekenners ondersoek moet word in ’n poging om haar ’n nuwe kans op lewe te gee.

Prathna Singh, direkteur van dié organisasie, sê besorgde gemeenskapslede aan die noordkus van KwaZulu-Natal het besluit om vandeesmaand hande te vat met BAT om opnuut die kollig te plaas op die beskerming van diere soos Opal.

Die 45 jaar oue orangoetang Opal noem die Natal-dieretuin in Pietermaritzburg al haar lewe lank huis.
Die 45 jaar oue orangoetang Opal noem die Natal-dieretuin in Pietermaritzburg al haar lewe lank huis. (Foto: Verskaf)

“Ons (BAT) veg al amper ’n dekade lank om Opal en ander diere te probeer help wat hul lewens in haglike omstandighede moet deurbring en dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap vanjaar ook saamwerk om ons hiermee by te staan,” sê Singh.

Opal is ’n Borneotiese orangoetang wat by die dieretuin gebore is, maar Singh glo dat sy baie beter af sal wees in die natuur as in die “tronksel” by die dieretuin.

Opal se verhaal is vir Singh simbolies van “die swaarkry wat diere in aanhouding” by dieretuine en sirkusse oor die wêreld heen moet deurgaan.

“Sy is gebore by die dieretuin in 1980 en al wat sy ken, is die leë stukkie grond, kort gras, vuil sementdammetjie en saamgeflansde klimraam waar sy bly.”

Hoewel sy “niks anders ken nie”, sê Singh, beteken dit nie dat Opal ’n goeie gehalte lewe het nie en daarom vra sy dat kenners ondersoek instel.

Diereaktiviste in KwaZulu-Natal eis dat Opal die orangoetang vrygelaat moet word.
Diereaktiviste in KwaZulu-Natal eis dat Opal die orangoetang vrygelaat moet word. (Foto: Verskaf)

“Ek is nie ’n kenner as dit kom by die verskuiwing en rehabilitasie van diere nie, maar ek glo vas daar is iets beter vir haar en daarom vra ons samewerking om haar te laat evalueer en skuif.”

Nicky Arthur, woordvoerder van die Get Vocal for Opal-veldtog, het op Wêreld-orangoetangdag op 19 Augustus ’n beroep gedoen op gemeenskapslede om saam met BAT by die projek betrokke te raak.

“Opal het 45 jaar van ongelooflike eensaamheid en afsondering by die dieretuin beleef en mens kan die verlange na ’n beter lewe in haar oë sien. Geen dier moet so leef nie.”

Smaragda Louw van BAT het by Arthur aangesluit en sê Opal se verhaal is ’n hartseer weerspieëling van alle diere in dieretuine.

“Diere soos Opal word in ’n hok gebore, en hulle sterf letterlik in ’n hok, dikwels alleen,” sê Louw.

“Hulle mag dalk ’n bietjie mak wees, maar hulle is net ’n skaduwee van hul eweknieë in die natuur.”

Louw glo ook Opal se storie wys dat diere in dieretuine min waarde vir bewaring en opvoedkunde het as hulle nie is “waar hulle hoort nie”.

“BAT se plan is duidelik: Bring ’n onafhanklike veearts in om Opal se gesondheid te assesseer en haar geskiktheid vir hervestiging te bepaal, met geldinsamelingspogings wat deur die Noordkusgemeenskap ondersteun word.”

Diereaktiviste glo Opal sal beter af wees in die natuur.
Diereaktiviste glo Opal sal beter af wees in die natuur. (Foto: Verskaf)

‘Werk sáám om diere te beskerm’

’n Verteenwoordiger van die Natal-dieretuin wat verkies om anoniem te bly, het op haar beurt aan Netwerk24 gesê sy verwelkom ’n ondersoek en glo dat organisasies soos BAT meer saam met plaaslike dieretuine moet begin werk.

“Daar is baie vooropgestelde idees oor dieretuine en die omstandighede van diere wat hier bly, maar as mense meer betrokke raak, sou hulle besef dat baie dieretuine ongelooflike werk vir bewaring doen,” sê sy.

“Dieretuine is ’n hoogs gereguleerde bedryf en ons word jaarliks besoek deur staatsveeartse wat kom seker maak ons diere is gesond en ons hokke is op standaard.”

Opal
Opal (Foto: Verskaf)

Daarmee saam werk hulle ook nou saam met die plaaslike dierebeskermingsvereniging wat saam met hul eie veeartse omsien na die welstand van al die diere.

“Ons het ook ’n ongelooflike span opsigters wat elke dag sorg dat die hokke op standaard bly en dat die diere gestimuleer word.”

Saam met Opal is die Natal-dieretuin die tuiste van verskeie voëlspesies, llamas, tiere, leeus, sjimpansees en vele meer, wat daagliks deur toeriste en verskeie skoolgroepe besoek word.

Die dieretuin glo hoe meer organisasies soos BAT saam met hulle begin werk, hoe groter verskil kan hulle maak.

“Mens sien dikwels geldinsamelingsinisiatiewe téén dieretuine, maar ek glo vas as ons saamstaan en die geld reg aanwend, kan ons berge versit in bewaring en navorsing.”

fc pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM