Omgewing

Lente bring warm en droë dae, waarsku weerdiens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Heuningby soek Dinsdag na stuifmeel in nuwe bloeisels van ’n wilde granaatboom in die Jan Cilliers-park in Groenkloof, Pretoria. Die wilde granaat (‘Burchellia bubalina’) begin normaalweg eers in die lente blom.  Foto: Deaan Vivier
’n Heuningby soek Dinsdag na stuifmeel in nuwe bloeisels van ’n wilde granaatboom in die Jan Cilliers-park in Groenkloof, Pretoria. Die wilde granaat (‘Burchellia bubalina’) begin normaalweg eers in die lente blom. Foto: Deaan Vivier

Suid-Afrikaners kan 'n besonder warm en droë somer te wagte wees, meen weerkenners nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) Dinsdag sy Seasonal Climate Watch-voorspelling uitgereik het.

Luidens die verslag deur Cobus Olivier, wetenskaplike in voorspellingsnavorsing van die weerdiens, blyk dit dat die lente en somer van Augustus tot Desember "gekenmerk gaan word deur bogemiddelde temperature en min reën".

Lehlohonolo Thobela, meteoroloog van die weerdiens, sê die Enso-indeks (El Niño- suidelike ossillasie-indeks) dui daarop dat mense in die suidelike en die oostelike dele van die land bonormale reënval te wagte kan wees aan die begin van die lente, terwyl die res van die land minder reën kan verwag.

"Teen die einde van die lente word 'n afname in reënval egter voorspel en kan groot dele van die land gereed maak vir 'n paar droë maande," sê Thobela.

Lehlohonolo Thobela van die Suid-Afrikaanse Weerdiens op 'n mediakonferensie in Junie vanjaar.  Foto: FC Pelser
Lehlohonolo Thobela van die Suid-Afrikaanse Weerdiens op 'n mediakonferensie in Junie vanjaar. Foto: FC Pelser

"Minimum en maksimum temperature gaan na verwagting ook in die grootste dele van die land in dié tydperk bonormaal wees."

Hoe word dié voorspellings gedoen?

Annette Botha, meteoroloog van Vox Weather, sê langtermynweervoorspellings kan gedoen word deur die gebruik van wêreldwye modelle.

"Instellings soos die weerdiens, die Universiteit van Pretoria en internasionale sentrums soos die European Centre for Medium-Range Weather Forecasts gebruik gevorderde klimaatmodelle. Dié modelle simuleer hoe die atmosfeer, oseane en grondoppervlak oor tyd heen in wisselwerking met mekaar optree," sê Botha.

Die modelle gebruik verskillende data, wat historiese data soos temperatuur, reënval, wind en seestrome insluit. Dit gebruik ook data oor die heersende toestande in die oseane en atmosfeer, soos die seetemperature en Enso-patrone (El Niño en La Niña).

Enso: El Niño en La Niña

"Een van die belangrikste drywers van seisoenale klimaatsverskille in Suider-Afrika is die Enso-siklus," sê Botha.

"Dis 'n natuurlike siklus van temperatuurveranderinge in die Stille Oseaan wat die weer wêreldwyd beïnvloed."

Volgens Botha is daar twee hooffases:

  • El Niño: Die Stille Oseaan word warmer as normaal, wat gewoonlik droër en warmer toestande oor die ooste van Suid-Afrika meebring.
  • La Niña: Die Stille Oseaan word koeler as normaal, wat lei tot meer reën oor die oostelike dele van Suider-Afrika.

Volgens Botha is dit belangrik om daarop te let dat Enso nie alle dele van Suid-Afrika op dieselfde manier beïnvloed nie.

"Die westelike dele van die land (soos die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap) is minder sensitief vir Enso, en ander faktore soos seestrome, kouefronte en die posisie van die subtropiese hoogdrukgebied speel daar 'n groter rol," sê sy.

"Daarom is die seisoenale modelle gewoonlik minder akkuraat oor die weste, soos ons in die laaste paar maande ervaar het."

Foto ter illustrasie.  Foto: Deaan Vivier
Foto ter illustrasie. Foto: Deaan Vivier

‘Weer kan groot impak op landbou, nywerhede hê'

Die verwagte bogemiddelde reënval in die vroeë en middel-lente sal waarskynlik nie die reservoirs in die oostelike en die suidoostelike gebiede van die land voller maak nie.

Verskeie woongebiede in dié streke ervaar volgens die weerdiens steeds matige droogtetoestande, "wat tesame met die verwagte bogemiddelde minimum en maksimum temperature kan lei tot erge waterverliese weens verdamping".

Die verwagte bonormale reënval in die suide en die ooste van die land sal waarskynlik gewas- en veeproduksie bevoordeel.

"Omgekeerd word ondernormale reënval in die meeste ander gebiede van die land in die vroeë en middel-lente verwag. Ondernormale reënval word egter vir die grootste deel van die land in die laatlente voorspel, wat 'n negatiewe impak op die landbou kan hê," lui die SAWD-verslag.

Die weerdiens waarsku inwoners, boere en die plaaslike owerhede om nou reeds voorsiening te maak vir die volgende paar maande se hitte en droogte.

- fc.pelser@media24.com

FC Pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM