Nóg goeie reën vir Vrystaat voorspel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Groot hoeveelhede fyn hael het Sondag in die vroeë oggendure oor Bainsvlei buite Bloemfontein uitgesak.
Groot hoeveelhede fyn hael het Sondag in die vroeë oggendure oor Bainsvlei buite Bloemfontein uitgesak. (Foto: Elsabé Louw)

Ná die milde reën die naweek op plekke in die Vrystaat word nog goeie neerslae vandeesweek vir die provinsie voorspel.

Tot 42 mm het van Saterdag- tot Sondagoggend in die Bloemfontein-omgewing uitgesak en 28 mm in die Bethlehem-omgewing, met haelstorms op plekke.

Elsabé Louw van Bainsvlei buite Bloemfontein sê ’n massiewe haelstorm van baie, maar fyn haelkorrels het daar uitgesak.

’n Donderstorm het die omgewing Saterdag omstreeks 22:00 getref, gevolg deur “donderweer wat skrik vir niks” teen middernag.

Louw het nie die reënvalsyfer nie, maar sê “dit het lanklaas so baie in so ’n kort tyd by ons gereën”.

Waterbron, by Bainsvlei, het 40 mm reën gehad.

’n Hewige haelstorm het die Bethlehem-omgewing Sondag in die vroeë oggendure getref.
’n Hewige haelstorm het die Bethlehem-omgewing Sondag in die vroeë oggendure getref. (Foto: Isoldé Laesecke)

Op die Facebook-groep Reënval in SA is die volgende syfers van Saterdag- tot Sondagoggend (08:00 tot 08:00) vir die Bloemfontein-omgewing aangemeld: 42 mm in Bayswater, 38 mm in Rayton, 32 mm in Navalsig, 30 mm in Noordhoek, 29 mm in Spitskop, 22 mm in Langenhovenpark en 20 mm in Fauna. 28 mm is vir die Bethlehem-omgewing aangeteken, 20 mm vir Marquard, 3 mm vir Ficksburg en 2,5 mm vir Virginia.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se syfers het Bethlehem 25 mm gekry, Bloemfontein 16 mm en 20 mm, Fauresmith 3 mm, Hennenman 1 mm, Knellpoortdam 4 mm, Warden 17 mm en Welkom en Wepener 5 mm.

Auret Strauss van Dan Pienaar in Bloemfontein sê swaar reën het hier uitgesak en 40 mm is gemeet. Dit het Sondag omstreeks 00:30 die swaarste gereën.

Haelkorrels het Sondag in die vroeë oggendure die grasperk op ’n kleinhoewe buite Bethlehem bedek.
Haelkorrels het Sondag in die vroeë oggendure die grasperk op ’n kleinhoewe buite Bethlehem bedek. (Foto: Isoldé Laesecke)

Plase in die Dewetsdorp-omgewing het ook milde reën gehad met syfers van 34 mm, 26 mm, 24 mm en 14 mm wat aangeteken is.

Isoldé Laesecke, ’n onafhanklike raadslid in die Dihlabeng-munisipaliteit, sê harde reën en hael het net ná middernag op haar kleinhoewe buite Bethlehem uitgesak en om 04:00 was daar hael. Haar sonpanele is onder meer deur die hael beskadig.

Sy het 28 mm reën gemeet en sê Sondag net ná 09:30 het hael nog op plekke in die dorp gelê.

Weervooruitsig vir die Vrystaat en Noord-Kaap

Michael Nethavhani, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie word teen Woensdag oor die Vrystaat verwag, maar dit sal van Donderdag af uit die weste begin opklaar.

Hy sê hewige storms kan Woensdag in die Oos-Vrystaat voorkom en hael, sterk winde en swaar neerslae meebring.

Dit sal in die algemeen ’n koel tot warm week in die provinsie wees.

Nethavhani sê geïsoleerde buie en donderbuie word teen Dinsdag en Woensdag in die ooste van die Noord-Kaap verwag en dit sal van Donderdag af uit die weste begin opklaar.

’n Warm tot baie warm week word vir die provinsie voorspel.

Nethavhani sê sonder noemenswaardige reënval is daar ’n groot risiko vir brande op plekke in die provinsie.

– marita.herselman@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA