Tot 100 mm reën het Dinsdagnag in die Wesselsbron-omgewing geval in ’n aand van storms in die Vrystaat.
Frankfort se strate het ook Dinsdag soos riviere gelyk nadat byna 60 mm reën binne ’n uur geval het.
Hewige reën het Dinsdag en Woensdag oor groot dele van die Vrystaat uitgesak en daar word vir die volgende 10 dae nóg reën oor die provinsie heen voorspel.
Johan van den Berg, onafhanklike weervoorspeller van Bloemfontein, sê wanneer die tropiese lug vanaf Namibië inbeweeg en die koue en droë lug uit die suide tref, het dit stormtoestande tot gevolg.
Hy voorspel dat dieselfde toestande nog tot 10 November sal voortduur.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing oor donderstorms in Ladysmith uitgereik. Die weerdiens waarsku dat dié donderstorms infrastruktuur kan beskadig en tot oorstromings kan lei.

Die weer in Ladysmith kan ook tot motorongelukke gelei weens nat paaie en beperkte sigbaarheid. Daar sal ook moeilike bestuurstoestande op grondpaaie wees.
Dorpe soos Frankfort het Woensdag binne ’n uur amper 60 mm reën gekry. Die hewige donderstorms het ook Dinsdag paaie in dié dorp laat oorstroom.
Die donderstorms het Dinsdag in Villiers skade aangerig. Die dak van een inwoner se huis is deur die stormwind afgewaai en sy moes haar huis ontruim.
In Wesselsbron het die dorp ook byna 60 mm reën gekry, terwyl sommige boere Dinsdag tot 100 mm reën aangemeld het.
Johnny Bezuidenhout, bestuurder van Hinterland-winkel van Senwes in Wesselsbron, sê die boere is geweldig dankbaar vir die reën. Hy sê die reën het op die perfekte tyd gekom vir die boere wat moet begin plant. Die hoeveelheid reën is egter baie ongewoon vir Wesselsbron in Oktober.
Die meeste van die reën het Dinsdagnag geval, sê Bezuidenhout.
Hoewel die reën paaie hier oorspoel het, is geen infrastruktuur beskadig nie.

“Ons het die reënval baie nodig gehad en ons sê vir die Here dankie vir die seën en al sy genade,” sê Bezuidenhout.
Volgens die weerdiens het daar Dinsdag 42 mm reën in Bothaville en 46 mm in Frankfort geval. Daar het ook 49 mm in Hennenman uitgesak.
Welkom het Dinsdag 57,8 mm gekry, volgens die weerdiens die meeste in die land.
In die Noord-Kaap was Kuruman met 11 mm en Vaalharts met 17 mm die plekke in die provinsie met die meeste reën.
Die Noord-Kaap het egter vir twee weerrekords in 48 uur gesorg: Van Zylsrus in die Kalahari se 36,6 °C was die hoogste maksimum temperatuur vir die dag op 28 Oktober en Sutherland in die suide van die provinsie se 3,6 °C was die laagste minimum temperatuur op 29 Oktober.








