Hartverskeurende plasings op sosiale media van minstens twee leeuwelpies, vermoedelik van dieselfde wyfie, wat kort ná mekaar gevrek het, het Sanparke genoop om wildtuinliefhebbers weer eens te verseker dat hulle die uitbreking van miltsiekte monitor.
Daar is reeds verlede maand in ’n verklaring gesê die uitbreking van miltsiekte, ook bekend as antraks, in sekere dele van die wildtuin is deel van die natuur se siklus.
Hoewel dit min risiko inhou vir toeriste, is dit endemies aan die Krugerwildtuin, en voorvalle kom sporadies in veral die noordelike gebied voor.
Vroeër is minstens twee leeus wat vermoedelik aan die antraksbakterie blootgestel is, opgemerk, hul gesigte oortrek van wonde – waarskynlik weens weefselontsteking en tekenend van die simptome van miltsiekte, het Netwerk24 berig.
Reynold Thakhuli, Sanparke-woordvoerder, het in daardie stadium gesê hulle kan nie bevestig of die leeus se wonde beslis aan miltsiekte toegeskryf kan word nie, omdat dit net deur toetse bepaal kan word.

Hoewel die wilde leeus nie tans behandel word nie, monitor veldwagters die diere.
Thakhuli het verduidelik dat vermoedelike gevalle ooreenstem met die siekte se natuurlike siklus in die wildtuin, waar dit soms in die winter uitbreek.
Hierdie jaar, sê hy, is veral koedoes en buffels geraak.
Die siekte word veroorsaak deur ’n spoorvormende bakterie. Dit raak egter nie die bevolking van diere of die biodiversiteit van die park nie, is verduidelik.
Die bakterie, wat in karkasse van besmette diere voorkom, kan dekades lank in die grond voortleef waar ’n besmette dier gevrek het.
Op die Facebook-blad Latest Sightings – Kruger het besoekers aan die wildtuin die afgelope week eers geskryf hoe ’n leeuwyfie op die oog af “hulpeloos” toekyk terwyl haar een welpie vrek.
“Dit was hartverskeurend om te sien hoe ’n moeder-leeu tot siens sê aan haar baba op die S25. Wat dit nog erger gemaak het, was toe die wyfie omgekyk het na die toeriste asof sy hulp vra,” het iemand geskryf.
Die volgende dag is op dieselfde blad gesê ’n tweede welpie se karkas is op dieselfde plek gewaar.
“Ons hoop dit is niks ernstig soos ’n siekte of gif nie,” is geskryf.
Thakhuli het by navraag van Netwerk24 gesê hulle is bewus van die kommer wat op sosiale media uitgespreek word rakende “vermoedelike gevalle van antraks by leeus in die wildtuin”.
“Let wel, ons monitor en hou die situasie fyn dop, en op die geskikte tyd sal ons verdere inligting gee.”
Hy het weer bevestig dat dit nie ’n ongewone situasie in nasionale parke is nie, en dat die bakterie nie ’n bedreiging vir besoekers inhou nie.
Hierna is Sanparke se verklaring ook deur moderators op sosialemediagroepe geplaas.



















