Omgewing

Moontlike reën, koue vir Wes- en Oos-Kaap voorspel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kans op reën word tot Vrydag oor groot dele van die Wes- en Oos-Kaap verwag. Foto ter illustrasie van voetgangers wat ’n straat in Kaapstad oorsteek. Foto: Jaco Marais
’n Kans op reën word tot Vrydag oor groot dele van die Wes- en Oos-Kaap verwag. Foto ter illustrasie van voetgangers wat ’n straat in Kaapstad oorsteek. Foto: Jaco Marais

Daar is vir die volgende twee dae 'n kans op reën oor verskeie dele van die Wes- en Oos-Kaap wat oor die naweek in die Oos-Kaap kan voortduur.

Bibberweer word ook oor die naweek in albei provinsies verwag met maksimum temperature wat op plekke onder 10 °C kan wees.

Intussen het die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak die afgelope twee maande geleidelik gestyg van 54,9% op 19 Mei tot 78,7% teen Maandag.

In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die provinsie se gemiddelde damvlak op 90,7%.

Kaapstad se gemiddelde damvlak het oor dieselfde tydperk van 58,4% tot 83,2% gestyg.

'n Jaar gelede was dié syfer 99,3%.

Donderdag is daar 'n 30%-kans op reën in Hermanus en 'n 30%-kans op reën in die middag oor dele van Kaapstad, Grabouw, Kaap Agulhas, Riversdal, Mosselbaai, George en Plettenbergbaai.

In Beaufort-Wes is daar ook 'n 30%-kans op reën en donderweer in die oggend.

Maksimum temperature van tussen 15 °C en 20 °C word oor die grootste deel van die Wes-Kaap verwag.

Vir Kaapstad word 'n maksimum temperatuur van 17 °C voorspel met 'n suidewind van 20 km/h. Vir George word 'n maksimum temperatuur van 19 °C voorspel en 'n suidwestewind van 20 km/h.

In die Oos-Kaap is daar 'n 30%-kans op buie of reën en donderweer oor die grootste deel van die provinsie.

Maksimum temperature van bo 20 °C word verwag.

Vir Gqeberha word 'n maksimum temperatuur van 20 °C voorspel en 'n suidwestewind van 30 km/h.

Teen Vrydag is daar 'n 30%-kans op buie of reën oor die grootste deel van die Wes-Kaap, buiten die noorde van die Weskus-gebied en dele van die Karoo.

Maksimum temperature van meestal onder 15 °C word verwag en kan so laag as 10 °C in Worcester en Ceres en 11 °C in Grabouw en Oudtshoorn wees.

Vir Kaapstad word 'n maksimum temperatuur van 14 °C voorspel en 'n suidewind van 20 km/h.

Vir George word 'n maksimum temperatuur van 13 °C en 'n suidwestewind van 30 km/h voorspel.

In Plettenbergbaai kan die suidwestewind 40 km/h bereik.

In die Oos-Kaap is daar 'n 30%-kans op buie of reën en donderweer oor die grootste deel van die provinsie.

Vir Gqeberha word 'n maksimum temperatuur van 16 °C voorspel en 'n suidwestewind van 56 km/h.

Die suidwestewind kan 50 km/h in Makhanda en Port Alfred bereik en in Kariega, Oos-Londen en KwaMaqoma (Fort Beaufort) 40 km/h.

Saterdag is daar weer 'n 30%-kans op reën in George, Mosselbaai en Plettenbergbaai.

Vir groot dele van die Oos-Kaap word 'n 30%-kans op buie voorspel en is daar 'n kans op sneeuval by KwaMaqoma.

Teen Sondag is daar 'n 30%-kans op reën in George en Plettenbergbaai.

Oor die grootste deel van die Oos-Kaap is daar ook 'n 30%-kans op reën, met moontlike sneeuval by Graaff-Reinet en KwaMaqoma.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM