Omgewing

Nat naweek lê voor in die noorde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die weerdiens voorspel Saterdag ’n 60%-kans op reën in Noordwes, die Vrystaat en dele van Gauteng.
Die weerdiens voorspel Saterdag ’n 60%-kans op reën in Noordwes, die Vrystaat en dele van Gauteng. (Foto:Verskaf)

In die noorde van die land kan ’n mens maar ’n reënjas en sambreel nader trek.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiensvoorspel ’n 60%-kans op reën Saterdagmiddag in die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en die suide van Gauteng.

Celeste Fourie van die weerdienssê mense in dié gebiede moet ook bedag wees op donderstorms. Die weerdiensverwag dat hewige donderbuie kan ontwikkel met ’n moontlikheid van hael op plekke.

Fourie sê dat reën egter nie alle gebiede hier beskore is nie.

“Wanneer ons sê daar is ’n 60%-kans op reën, beteken dit nie noodwendig dat daar definitief reën gaan wees nie, maar dat die data wat ons ingesamel het, ons 60% seker maak dat daar wel reën gaan val,” verduidelik sy.

“Dit is hoekom ’n mens soms sal sien dat dit net op sekere plekke reën, ondanks die hoë persentasie wat voorspel is.”

Fourie maan ook dat die reën plek-plek vloede tot gevolg kan hê.

Vir Limpopo en Mpumalanga voorspel die weerdiens ’n 30%-kans op verspreide buie en donderbuie sonder die gevaar van erge donderstorms.

Daar word verwag dat die band van donderstorms Sondag ooswaarts sal skuif. Daar is dan ’n 60%-kans op reën in die oostelike dele van Noordwes en Gauteng.

Fourie sê hoe nader aan Sondag hoe akkurater kan voorspel word wat om te verwag.

“Dit is belangrik dat mense gereeld die nuus raadpleeg vir enige veranderinge wat kan plaasvind.”

– fc.pelser@media24.com

fc pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM