’n Geliefde senior bewaarder by Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development (Herd) is Saterdag dood toe ’n olifant hom deurboor het.
Luidens ’n verklaring wat Herd uitgereik het, het die betrokke olifant, genaamd Limpopo, net ná 15:00 ’n boom omgestoot. Bewaarders het toe uitgegaan en gepoog om die boom te verwyder en die pad skoon te maak.
Israel Shambira, ’n senior bewaarder, het daar naby onder ’n boom gesit. Limpopo het toe onverwags haar aandag op Shambira gevestig en hom deurboor, lui die verklaring.
Sy kollegas het onmiddellik probeer om hom te help, maar hul pogings was tevergeefs.
“Ons is diep geskok deur die gebeurtenis. Limpopo se optrede was onverwags en sy is nie uitgelok nie,” sê Herd in die verklaring.
Shambira was al lank ’n bewaarder en betrokke by olifantsorg. Hy het volgens Herd al in Maart 2002 na olifante begin omsien.

Herd onthou Shambira as ’n gelowige en getroue man. “Hy was bekend om sy daaglikse gebede in die groentetuin en sy onwrikbare toewyding aan Herd. Hy was vertrouenswaardig en gerespekteer.”
Tigere Matipedza, olifantbestuurder by Herd, sê in die verklaring: “Ons weet nie wat deur Limpopo se kop gegaan het nie. Alles was Saterdagoggend nog normaal, met geen tekens dat die olifante dalk onrustig was nie.”
Herd noem dat die organisasie dikwels werk met olifante wat gerehabiliteer moet word ná ’n traumatiese verlede. Limpopo is egter by Herd gebore, en het nie ’n traumatiese verlede ervaar nie.

Brett Mitchell, raadgewer van Elephant Reintegration Trust, is volgens Herd ingeroep en sal by Herd bly in die volgende paar dae terwyl die situasie beoordeel word.
Shambira word oorleef deur sy vrou en agt kinders.
“Ons gedagtes en gebede is by Israel se familie. Hy is deur ons almal gekoester en sy afwesigheid gaan ons almal diep raak,” sê Herd.
5506




















