Inwoners en besoekers het Sondag meer as net robbe gesien toe twee orkas ’n ongewone draai in die Kalkbaai-hawe maak.
In ’n video op Facebook is mense duidelik verras om dié moordvisse in die hawe te sien.
Dr. Simon Elwin, direkteur van die Sea Search-groep en ’n navorsingsgenoot van die Universiteit Stellenbosch, sê hulle stel tans ondersoek in na waar die orkas oral langs die kus gesien word.
Volgens Elwin was Sondag se kuiergaste die orkas Port en Starboard. Hulle is ook Maandag in die hawe by Robbeneiland gewaar.
“Hulle is byna altyd saam. Hulle is twee volwasse mannetjies met gebuigde vinne – die een s’n na links en die ander een na regs – van daar hul name Port en Starboard. Hul gedragspatroon verskil baie van dié van ander orkas.”

Elwin sê gebuigde rugvinne kom selde in diere in die natuur voor en dus is dit uiters spesiaal om twee orkas met gebuigde rugvinne saam te sien. Gebuigde rugvinne is meer algemeen onder diere in aanhouding.
Volgens Elwin teiken Port en Starboard haaie, veral spesies soos die platneus-sewekiefhaaie en grootwithaaie, wat daartoe lei dat dié haaie wegbeweeg van Valsbaai en Gansbaai.
Luidens ’n artikel oor die twee orkas op die webwerf van die Natuurhistoriese Museum in Engeland vreet hulle die haaie se lewer, wat voedingstofryk is.
“Nuwe waarnemings toon dat die orkas vaardiger is as wat ons aanvanklik gedink het. Terwyl meer as een orka gewoonlik jag gemaak het op ’n grootwithaai, toon beeldmateriaal dat Starboard ’n grootwithaai kan aanval en sy lewer in net twee minute kan verwyder, sonder enige hulp,” lui die artikel.
Elwin sê dis nuwe gedrag dat die orkas by hawens ingaan.
“Ek dink dit is vroeg vanjaar die eerste keer aangeteken. Voor dit het ons hulle net in kuswaters gesien.”
Volgens Elwin is dit fassinerend om te sien hoe hierdie diere die laaste paar jaar, soos hulle geleer het om verskillende prooi te teiken, as’t ware geëvolueer en hul gedrag aangepas het.
Elwin sê Port en Starboard, wat hy skat nou sowat 20 jaar oud is, is die eerste keer in 2009 gesien. Hulle word meestal langs die Wes-Kaapse kus gesien, selfs so ver as Mosselbaai, en is ook aan die kus van Lüderitz in Namibië gewaar.
Orkas, sê hy, hou gewoonlik nie ’n gevaar vir mense in nie, maar kan “aggressief speel” met seiljagte wat hulle teekom en het al sommige laat sink.

















