Die jaarlikse blommeseisoen in die Weskus Nasionale Park het Vrydag begin.
Volgens Sanparke sal die Postberg-gedeelte van die park tot 30 September oop wees vir die publiek om die seisoenale blommeprag te besigtig.
Die blommeseisoen bereik jaarliks 'n hoogtepunt rondom middel Augustus tot middel September.
Sanparke sê besoekers moet daarop let dat instandhoudingswerk by die Geelbek-restaurant gedoen word. Waentjies wat kos en verversings bied, sal by die Geelbek-, Tsaarsbank- en Preekstoel-gebied van die park wees.

Toegang by die hek na die Postberg-gedeelte is daagliks oop van 09:00 tot 17:00 (die laaste toegang is om 16:30) en by die algemene parkgebied van 07:00 tot 18:00 in Augustus (laaste toegang om 17:30) en September 07:00 tot 19:00 (laaste toegang om 18:30).
Toegangsgelde vir Augustus en September beloop R116 per volwassene en R58 per kind (Suid-Afrikaanse burgers); Sadek-lande - volwassenes met 'n geldige paspoort R179 en R89 per kind; internasionale besoekers R272 per volwassene en R136 per kind.
Volgens Sanparke is Spring Flowers, 'n gewilde gids wat deur ereveldwagters van die Weskus-streek ontwikkel is, by die Postberg-ingangshek te koop.
Nog twee boeke, die gids West Coast Birding vir voëlentoesiaste en 'n boek vir die jongspan, Adventure with Captain Gannet, is beskikbaar by die Geelbek-inligtingsentrum, die Le Petit Maison-restaurant, Langebaan Spar, asook by die park se toegangshekke waar ereveldwagters gedurende die blommeseisoen aan diens is, luidens 'n verklaring.























