'n Nasionale ramptoestand is Vrydag in die Staatskoerant afgekondig ná stormweer verlede maand tot groot skade in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en Gauteng gelei het.
Dr. Elias Sithole, hoof van die nasionale rampbestuur, het dit Vrydag bekend gemaak ná samesprekings met verskeie staatsorgane en hoofde van provinsiale rampbestuursentrums oor die omvang van ontwrigtende reën, donderstorms, vloede en sterk winde wat tussen 16 en 28 Februarie tot skade in bogenoemde provinsies gelei het.

Volgens Sithole het die stormweer tot lewensverlies, skade aan eiendom, infrastruktuur en die omgewing asook ontwrigting van basiese dienste gelei.
"Ingevolge art. 23(1)(b) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002) kan die impak wat hierdie strawwe weerstelsel op die gebiede hierbo gehad het, as 'n nasionale ramp geklassifiseer word," lui Sithole se afkondiging in die Staatskoerant.
Volgens Sithole word staatsinstellings nou ingevolge die wetgewing versoek om bykomende bystand te verleen of bykomende hulpbronne te verkry om die ramp te bestuur.
Die nasionale en provinsiale regerings moet voorts 'n plan vir noodverligting en rehabilitasie wat veelvuldige sektore betrek, in werking stel.
Netwerk24 het Donderdag berig oor 'n wolkbreuk Woensdagaand aan die Wes-Rand in Gauteng wat tot kitsvloede gelei het. Talle huise in Randparkrif is deur massas water getref toe die Klein-Jukskeirivier sy oewers oorstroom het.
LEES OOK | Jhb se Klein-Jukskeirivier stroom deur huise ná wolkbreuk
In die noorde van Pretoria is verskeie inwoners dakloos gelaat ná 'n soort tornado, bekend as 'n hoos, die gebied getref het. 'n Skool en motorhandelaars se ondernemings is ook erg in die storm beskadig.
LEES OOK | Takke, bakstene vlieg, dakke afgeruk toe ‘tornado' noorde van Pta tref
Stormweer in KwaZulu-Natal het verlede week minstens 14 lewens geëis en boere in die Thabazimbi-gemeenskap het duisende vee en
Verder is bedrywighede vandeesweek weens ernstige oorstromings by vyf grensposte op die grens tussen Limpopo en Botswana opgeskort. In Mpumalanga was Middelburg onder water en in Noordwes het inwoners van Klerksdorp se huise oorstroom.

















