Die N10 tussen Kookhuis en Nxuba (Cradock) is vroeg Dinsdagoggend weer vir verkeer oopgestel nadat dit byna agt uur lank gesluit was weens 'n botsing tussen twee vragmotors.
Volgens Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer, is die N2 tussen KwaBhaca (Mount Frere) en Kokstad nou ook onder 'n dik laag sneeu bedek en gaan dit dalk binnekort gesluit word indien dit nie verbeter nie. Verkeer op die N9 in Middelburg by die Lootsbergpas in die rigting van Graaff-Reinet is reeds hewig vertraag en verkeersbeamptes is op die toneel.
Die verkeer vloei ook stadig op die R68 tussen Graaff-Reinet by die Wapadsberg in die rigting van Nxuba. Sneeu val steeds op die Barkypas op die R58 in die rigting van Barkly-Oos.

Binqose waarsku dat dié pad veral glibberig is en slegs klein voertuie word onder die toesig van verkeersbeamptes deurgelaat.
Die N6 in Komani (Queenstown) by die Penhoekpas in die rigting van Jamestown is in hierdie stadium nog oop, hoewel die pad met sneeu bedek is en dit steeds besig is om te sneeu.
"Die ongunstige weersomstandighede en bergpasse wat met 'n dik laag sneeu bedek is, het tot die vertraging bygedra aangesien 'n sleepwa wat groot genoeg is om die wrak te herwin ook deur die sneeu moes navigeer," sê Binqose.
"Dit is verder vererger deur paniekerige bestuurders en vragmotorbestuurders wat die pad versper het terwyl hulle probeer het om verby te beweeg. Die departement van vervoer erken die mislukking en vra om verskoning vir die ongerief."














