Kaapstad se welige stedelike woude is in gevaar weens die toenemende getal bome wat deur indringer-stompkopkewers geïnfesteer word.
Volgens die jongste syfers van die metro is meer as 600 besmette bome in Nuweland, Rondebosch, Mowbray, Claremont, Kenilworth en Observatory langs die Liesbeekrivier waargeneem.
Sedert 2019 is ook meer as 6 000 besmette bome in die Helderberg-omgewing aangeteken en tot nou toe is 26 bome in Penhill, Eersterivier, besmet.
"Bome verskaf belangrike dienste in ekostelsels vir die oorlewing van die stedelike omgewing," sê Eddie Andrews, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing.
"Dié bome gebruik ook 'n geweldige hoeveelheid koolstofdioksied en help dus om die impak van klimaatsverandering te verminder. Wanneer bome doodgaan, is daar minder skaduwee en dit dra by tot stedelike hitte-eilande."

Hy sê verskeie bome wat in die stad geplant is, is hoogs vatbaar vir die infestasies. Die vatbare boomspesies versterk nie net die infestasies nie, maar vergroot die risiko dat bome in die omgewing ook besmet word.
Vlierbome (Acer negundo), Engelse eikebome (Quercus robur), kasteroliebome (Ricinus communis) en treurwilgerbome (Salix babylonica) kom veral in die stad voor en is hoogs vatbaar vir die infestasies.
"Die feit dat ons stedelike woud talle boomspesies het wat in die groepe ‘hoogs vatbaar' en ‘reproduktiewe gasheer' val, dra by tot die probleem. Histories het ons monokulture geplant, soos lanings en boorde van eike- en plataanbome, wat nou die verspreiding vergemaklik," sê hy.
Die munisipaliteit vermoed die indringer-stompkopkewer is saam met vuurmaakhout uit ander gebiede na Kaapstad gebring.
Die stompkopkewer "is van Suidoos-Asiatiese lande, soos Viëtnam, maar het vinnig versprei na gebiede met 'n Mediterreense klimaat soos Kaapstad," sê Andrews.
Hy is egter onseker oor watter bydrae die klimaat lewer omdat daar ook van dié kewers in ander provinsies is.

Aanloklike toestande vir die infestasies sluit in bome wat onder druk is weens warm en droë toestande, bome wat beskadig is en bome wat deur bouwerk ontwrig word. Sulke bedrywighede, wat algemeen in die stad voorkom, verswak die bome se natuurlike verdediging teen die kewers en ander peste.
"Die grootste bydraers tot die verspreiding van die kewers is die vervoer van hout en die hantering en bestuur van besmette afval-plantmateriaal," sê Andrews.
Luidens 'n verklaring van die munisipaliteit is daar nog geen oplossing nie en die beste benadering is steeds om hoogs besmette reproduktiewe gasheerbome fisiek te verwyder.
Die munisipaliteit se eenheid oor indringerspesies het vandeesweek opleidingsessies in Kraaifontein en Pinelands gehou waar inwoners ingelig is oor hoe om besmette bome te identifiseer en hanteer, en hoe om op 'n veilige manier van besmette plant-afval ontslae te raak sonder dat die infestasie na ander gebiede versprei.
"Ons wil soveel inwoners as moontlik bereik om die verspreiding na naburige voorstede te beperk," sê Andrews in die verklaring.
Die munisipaliteit mag nie bome op private eiendom verwyder nie en die eienaar is dus verantwoordelik daarvoor.
Andrews het aan Netwerk24 gesê die stad het tot dusver 'n omvattende benadering gevolg. Daar is 'n toegewyde begroting en personeel om die infestasie te bestuur.
Dan is daar ook 'n stompkopkewer-handves wat departemente lei oor hoe om saam te werk om die verspreiding te probeer bekamp en verslaggewing doeltreffender te maak.
Laastens het die stad ook 'n bestuursplan opgestel om bygewerkte en navorsingsinligting te verskaf wat gevolg moet word. Al die opleidingsmateriaal vir interne en eksterne personeellede is by die plan ingesluit.
- karla.vandermerwe@media24.com
• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.




















