Omgewing

Tornado, oorstromings kom naweek in Vrystaat voor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Tornado het Sondag groot skade in Welkom veroorsaak. Foto: Facebook
’n Tornado het Sondag groot skade in Welkom veroorsaak. Foto: Facebook

'n Tornado het Sondagmiddag skade aan eiendom in Welkom aangerig en swaar reën het die naweek oor die Vrystaat en Noord-Kaap uitgesak, met nog reën wat vir die komende week voorspel word.

Corné Leech, eienaar van Quality Plastics in Welkom, sê die tornado het omstreeks 13:30 deur die nywerheidsgebied van die dorp beweeg. Die hele dorp is egter nie deur die tornado geraak nie. Dit is nog onbekend of enigiemand beseer is. Die omvang van die skade in die dorp is ook nog onbekend, hoewel foto's wys dat die Welkom-brandweerstasie se dak afgewaai is.

Die tornado het erge skade aan die brandweerstasie in Welkom aangerig. Foto: Facebook/1Life911 EMC
Die tornado het erge skade aan die brandweerstasie in Welkom aangerig. Foto: Facebook/1Life911 EMC

Die naweek se swaar reën het ook op die Dealesville-pad na Bloemfontein oorstromings veroorsaak.

Johan Pretorius, DA-raadslid van die Mangaung-metro, sê die oorstromings was grotendeels by die Helenaweg-kruising in Bainsvlei.

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het 'n waarskuwing uitgereik vir motoriste om veilig te bestuur aangesien daar dikwels dié tyd van die jaar hael- en donderstorms op die N3-pad voorkom.

Daar was ook Sondag 'n groot opeenhoping van verkeer by die Verkeerdevlei-tolhek ná 'n ongeluk op die N1-hoofweg net buite Verkeerdevlei. Volgens motoriste het die tou by dié tolhek vir sowat 8 km opgedam.

Groot skade is in Welkom aangerig toe 'n tornado dele van die stad getref het. Foto: Facebook
Groot skade is in Welkom aangerig toe 'n tornado dele van die stad getref het. Foto: Facebook

Snyman van der Berg, 'n inwoner van Dewetsdorp, sê daar het van Saterdagmiddag tot Sondagoggend 28 mm reën in die dorp geval. Sommige dele in die distrik het die afgelope drie weke tot 92 mm reën gekry.

"Die boere is op hul knieë om dankie te sê. Ons het baie bekommerd geraak dat ons nie reën gaan kry nie," sê Van der Berg.

Wietz van Zyl, wat op die plaas Deelfontein in die Dewetsdorp-distrik boer, sê dit het van Saterdagmiddag tot Sondagoggend 32 mm op die plaas gereën. Hy sê dit is die meeste reën wat sedert November op die plaas geval het.

Inwoners van Upington het tot 22 mm reën gemeet van Saterdag- tot Sondagoggend. Daar is ook 40 mm in Kuruman aangemeld en inwoners van Raaswater, net buite Upington, het binne 24 uur 80 mm reën gekry.

Die pad tussen Bloemfontein en Dealesville Sondag. Foto: Facebook
Die pad tussen Bloemfontein en Dealesville Sondag. Foto: Facebook

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê daar is vir Maandag tot Woensdag 'n 30%- tot 60%-kans op reën vir die Oos-Vrystaat en sentrale deel van die provinsie. Daar word egter geen reën oor die westelike dele verwag nie.

Dit sal Donderdag tot Saterdag slegs in die Oos-Vrystaat reën.

Die reën sal Sondag weer oor die grootste dele van die Vrystaat val.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM