Die departement van landbou ondersoek die moontlikheid dat die Vrystaat ook nou met sy eerste geval van bek-en-klouseer te doen het nadat die uitbreking reeds ander dele van die land getref het.
Die departement ondersoek 'n moontlike geval in die Kroonstad-omgewing en sal 'n verklaring uitreik sodra dit bevestig is, sê Joylene van Wyk, woordvoerder van John Steenhuisen, minister van landbou, by navraag.
Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, het Donderdag glo op 'n WhatsApp-groep wat geskep is vir nuus oor bek-en-klouseer in die provinsie, aangedui 'n geval is in Kroonstad aangemeld.

Sy het na verneem word gesê die provinsiale veeartse sal advies gee oor die maatreëls in plek en die uitrol van inentings.
Rockman het glo ook aangedui sy het die minister van landbou hieroor ingelig.
Moliehi Moeng, woordvoerder van dié provinsiale departement, het egter teen Saterdag nog nie terugvoering op Netwerk24 se navraag van Vrydag gegee nie.
Friedl von Maltitz, Vrystaat Landbou (VL) se adjunkpresident en 'n beesboer van Ficksburg, prys Rockman vir haar proaktiewe optrede om die landbourolspelers op die WhatsApp-groep oor die moontlike geval in te lig.
Hy sê by navraag VL het die LUR juis gevra om hulle eerder vroeër as later oor sulke gevalle in te lig, sodat hulle die landbougemeenskap kan verwittig en die verspreiding kan beperk.
Volgens Von Maltitz het die voorman van die betrokke plaas in 'n stemboodskap bevestig hulle het 'n geval laat ondersoek.
"Die aanvanklike toets is positief, maar daar word op 'n tweede bevestigende toets gewag. Sodra hulle hom het, dan is dit positief," sê Von Maltitz.
Hy sê dit blyk 'n alleenstaande geval te wees - volgens die boer was die beeste nie met ander beeste in aanraking nie.
Von Maltitz sê dit is moontlik een van die gevalle wat deur mense oorgedra is - die virussiekte kleef aan mense wat in aanraking met die besmette diere was en word só na ander diere versprei.
VL vra dat die provinsiale regering maatreëls in plek stel, al word die situasie opgelos, om die provinsie in die toekoms teen dié en ander dieresiektes te beskerm.
Die organisasie vra daadwerklike optrede van die provinsiale departement en staatsveeartse.
Sou die geval wel as positief bevestig word, sal dit 'n ekonomiese uitwerking op veral die boere in daardie omgewing hê.
"Ons loop ook die risiko dat die Vrystaat dan ook verklaar word as 'n bek-en-klouseer-provinsie, en dan kry ons nie kalwers verkoop wat uitgevoer kan word nie."
Prof. Andries Raath, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) in die Vrystaat en Vrystaatse streekbestuurder van TLU SA, sê hy is bewus van die moontlike geval en dat dit in 'n redelik afgesonderde gebied is.
"Ek dink die reaksie van die eienaar van die vee was goed; ook van die omliggende landbou-omgewing. Ek dink onder die omstandighede is daar gedoen wat gedoen kon word."

Raath sê bek-en-klouseer is nou potensieel in elk van die nege provinsies.
"Ek stel dit só omdat ons graag die produsente sover wil kry om hul biosekuriteitsmaatreëls tot op die letter toe te pas."
Hy sê dit is belangrik dat daar voorkomend opgetree word om enigsins 'n impak op die verspreiding van die siekte te hê.
Die nasionale departement het verlede Vrydag aangekondig die siektebeheergebied wat in die Oos-Kaap en Limpopo ingestel is om die uitbreking van bek-en-klouseer te beperk, is opgehef, het Netwerk24 berig.
Netwerk24 het berig Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes voer almal 'n stryd teen dié siekte.
76 plase in die Oos-Kaap was toe steeds, ondanks die opheffing van die siektebeheergebied, onder kwarantyn en die siektebeheergebied in KwaZulu-Natal was steeds van krag.
LEES OOK | Steenhuisen gee sy mening oor inenting teen bek-en-klouseer
*Die berig is aangepas ná publikasie. Netwerk24 het aanvanklik berig die moontlike geval is by 'n stoetkudde aangemeld. Dit het intussen aan die lig gekom dat die moontlike geval by 'n trop kommersiële koeie aangemeld is en nie 'n stoetkudde nie. Netwerk24 vra om verskoning vir die fout.

















