Die bykomende geld vir die departement van basiese onderwys verteenwoordig 'n "progressiewe" verbintenis tot die toekoms van Suid-Afrika se kinders.
Die ANC-studiegroep oor basiese onderwys het Vrydag so gesê toe hy die bykomende R19,1 miljard wat Enoch Godongwana, minister van finansies, vir dié sektor in sy jongste begroting bewillig het, verwelkom het.

Tshepo Louw, sweep van die ANC-studiegroep, sê die geld, sowel as 'n bykomende R10 miljard vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) oor die volgende drie jaar, gaan op kritieke gebiede soos die behoud van onderwysers en die uitbreiding van VKO fokus.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) ook in reaksie op die begroting gesê die bykomende R19,1 miljard sal verseker dat daar nie verdere aflegging van onderwysers in die sektor plaasvind nie.

Paul Sauer, uitvoerende beampte van die SAOU, sê verder in 'n verklaring dat dié vakbond Godongwana se siening ondersteun dat die leerling-onderwyser-verhouding verminder moet word sodat die probleem van oorgroot klaskamers getakel kan word.
"Onderwysers kan slegs gehalteonderwys lewer as die nodige infrastruktuur verskaf word. Die 2025/'26-begroting maak voorsiening vir die oorlewing van die onderwyssektor, maar hierdie begroting moet steeds deur die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente bestuur word."
Sauer sê die SAOU doen daarom 'n ernstige beroep op provinsies om die besparingsmaatreëls van die nasionale tesourie ook in die provinsiale begrotings te weerspieël en om nie die situasie moeiliker te maak deur eie besnoeiings aan die begrotings aan te bring nie.
Die SAOU dring ook daarop aan dat gevolgebestuur, veral ten opsigte van die wanbestuur van fondse deur provinsiale onderwysdepartemente, versterk moet word.
Sauer sê die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) het ook 'n verpligte gr. R-komponent tot die onderwysstelsel toegevoeg.
"Dit is daarom verblydend dat 'n bykomende R10 miljard aan die VKO-sektor toegewys is. Hierdie bedrag is egter nie net vir die implementering van gr. R nie, maar is aan die algehele VKO-sektor toegewys."
Intussen sê Louw verder namens die ANC-studiegroep in 'n verklaring die bykomende geld en sulke finansiële steun is van kardinale belang vir die sektor "aangesien ons daaraan werk om onderwysassistente in ons skole terug te bring, die leeromgewing te verbeter en ons kinders die ondersteuning te bied wat hulle nodig het om te floreer".
"Dit is ewe belangrik om erkenning te gee aan die merkwaardige pogings van die vorige administrasie, gelei deur Mama Angie Motshekga (vorige minister van basiese onderwys), om die geskiedkundige uitdagings van die stelsel reg te stel. Een van die belangrikste prestasies was die suksesvolle uitwissing van puttoilette, wat 'n indrukwekkende 93% voltooiingsyfer behaal het wat 3 372 skole landwyd positief geraak het."
Louw sê aansienlike vordering is gemaak om die gehalte van onderwys te verbeter en om puttoilette proaktief uit te wis "wat 'n diep verbintenis weerspieël om leerlinge te beskerm en die opvoedkundige omgewing te verbeter".
Volgens hom moet daar voortaan verseker word dat elke kind in Suid-Afrika tot veilige, billike onderwys van gehalte toegang het.




















