Onderwys

Helpmekaar: Adjunk neem reeds ‘informeel’ waar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Martin Botha by ’n rugbywedstryd van Helpmekaar Kollege toe hy nog die skoolhoof was. Foto: Facebook/Elize Botha
Martin Botha by ’n rugbywedstryd van Helpmekaar Kollege toe hy nog die skoolhoof was. Foto: Facebook/Elize Botha

'n Omsendbrief waarop die oudhoof van Helpmekaar Kollege se naam verskyn, het opnuut vrae laat opvlam oor wie die septer by die private skool in Johannesburg swaai.

Op die omsendbrief wat vandeesweek aan voornemende leerlinge van die skool gestuur is, word Klaus König steeds as skoolhoof aangedui ondanks die feit dat hy verlede jaar uit die pos getree het.

Die skool se direksie sê egter dit is net 'n administratiewe fout.

Dit kom nadat die skool verlede week 'n skokaankondiging gemaak het dat sy en Martin Botha, wat in Januarie by König oorgeneem het, se paadjies ná net sewe maande skei.

Botha sou egter tot einde Julie dié skoene volstaan, waarna Eugene Marais, huidige adjunkhoof vir operasionele sake, van 1 Augustus tot Desember sou waarneem.

Toe Netwerk24 die skool egter verlede week bel en vra om met Botha te praat, is gesê dat hy reeds vertrek het.

Klaus König toe hy nog die hoof van Helpmekaar Kollege was.  Foto: MJ Scholtz
Klaus König toe hy nog die hoof van Helpmekaar Kollege was. Foto: MJ Scholtz

Prof. Derek van der Merwe, voorsitter van die skool se direksie, het Dinsdag by navraag gesê Botha is wel tot einde Julie aangestel, "maar met sy uitdienstreding het die direksie hom van sy pligte tot einde Julie vrygestel. Niks vreemds nie."

Van der Merwe sê Marais neem tans "informeel" as hoof waar en sal vanaf Vrydag "formeel" as hoof waarneem.

König se naam met die woord "hoof" daarby het Dinsdag op briewe verskyn wat aan voornemende leerlinge gestuur is. Netwerk24 is in besit van 'n afskrif van so 'n brief.

Dinsdag se datum verskyn ook op die brief.

Van der Merwe het König se naam op die brief as 'n administratiewe fout bestempel.

"Mnr. König het vanjaar steeds onderhoude gevoer met gr. 7-kinders en hul ouers wat toelating tot Helpmekaar Kollege in 2026 wil hê.

"Dit was deel van sy konsultfunksie in 2026 terwyl mnr. Botha hom ingegrawe het. Die pro forma-aanvaardingsbrief wat aan suksesvolle aansoekers gestuur word, is al die jare administratief uitgestuur met sy naam onderaan die brief.

"Duidelik is daar nagelaat om die pro forma-brief aan te pas," sê Van der Merwe.

Eugene Marais   Foto: LinkedIn
Eugene Marais Foto: LinkedIn

König het ná sy aftrede in 'n "adviserende rol" by die skool aangebly.

Die skool voer aan hy en Botha het "saam besluit" dat Botha uit diens sou tree omdat "sy manier van doen en Helpmekaar se manier van doen net nie dieselfde is nie".

Daar is egter wyd bespiegel dat König oor Botha se "skouer geloer" en vir hom "voorgeskryf" het.

Die direksie sê egter dit is onwaar.

"Mnr. König se rol was deurgaans raadgewend en ondersteunend en mnr. Botha is nie verhoed om sy stempel af te druk nie," sê Van der Merwe.

König en Botha is sedert verlede week herhaaldelik vir kommentaar genader, maar het nie op Netwerk24 se versoeke gereageer nie.

- arisa.schamrel@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM