Herfs is nie net die tyd van skakerings van geel, oranje en rooi nie, maar ook die tyd vir die e-Beeld-skool se herfsskool.
"Gr. 11's en 12's kan nou registreer vir aanlyn klasse in wiskunde en fisiese wetenskap," sê Elize Engelbrecht, hoof van die e-Beeld-skool.
"Die klasse word vanaf 31 Maart tot 5 April aangebied en behels 15 uur onderrigtyd per vak vir die week. Boonop word aantekeninge en skakels na video-opnames van elke klas met elke leerling gedeel sodat hulle dit weer kan kyk sou hul wou. Daar kan dus steeds geregistreer word, al kan iemand nie direk inskakel nie, want hulle sal alles ontvang om op hul eie tyd deur alles te werk."
Benewens die herfsskool (wat ook 'n vakansieskool is), kan leerlinge ook steeds registreer vir weeklikse klasse in wiskunde en fisiese wetenskap. Die klasse word in sessies van twee uur elk tot 1 September aangebied.
"Gr. 12's kan ook vir die NBT (National Benchmark Test)-kursus, wat 5 en 6 April aanlyn aangebied word, registreer," sê Engelbrecht.
Marietjie Boshoff van Bronkhorstspruit se seun, Joel, het in sy gr. 8-jaar by die e-Beeld-skool se aanlyn klasse begin inskakel. Joel is nou in matriek.
Hy verwys na die klasse as "deeglik, insiggewend" en "op standaard".
Volgens Joel is die aanlyn klasse ook goeie voorbereiding vir eksamens.
"Ons wil die e-Beeld-skool bedank dat ons in die gerief van ons huis ekstra klasse vir ons kinders kon moontlik maak," sê Boshoff.
Vir meer inligting oor die herfsskool en alles anders wat die e-Beeld-skool bied, besoek ebeeldskool.co.za.
Navrae kan aan skool@ebeeldskool.co.za of 083 380 1800 gerig word.
















