'n Kantoor van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) op die Kovsie-kampus, ondersteuning vir swanger studente, beter veiligheidsmaatreëls, gesertifiseerde geestelike praktisyns op elke kampus en beter nooddienste.
Dit is van die voorstelle wat die studenteraad gedoen het met die portefeuljekomitee oor hoër onderwys se toesigbesoek aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Die portefeuljekomitee besoek vandeesweek hoëronderwys-instellings in die Vrystaat om onder meer die uitdagings en infrastruktuurontwikkeling van die instellings te evalueer.
Terreinbesoeke word beoog en die instellings se infrastruktuurontwikkelingsprojekte sal geïnspekteer word.
Die komitee sal daarna met sleutelbelanghebbendes, insluitend institusionele rade, die bestuur, studenteraad, vakbonde en institusionele forums vergader.
Mpho Maloka, waarnemende SR-president van die UV, sê die No Student Hungry (NSH)-program het soms nie voorraad nie en studente kan dan nie kospakkies kry nie. En hoewel die universiteit 'n progressiewe kampusveiligheidsinisiatief van stapel gestuur het, is daar steeds kommer oor studente se veiligheid buite die kampus, met min sigbare patrolliedienste.
Daar is nie genoeg patrolleerders rondom die hoofgebiede van die Bloemfontein-kampus nie.
Volgens Maloka is daar ook geen ondersteuning vir swanger studente nie. Maloka het voorgestel dat 'n vennootskap met organisasies sonder winsbejag, soos die swangerskap-krisissentrum, aangegaan word, asook met die maatskaplike ondersteuningskantoor.
Karabo Khakhau, 'n lid van die portefeuljekomitee, het op die besoek gesê dit is verkeerd om die bestuur of instelling te vra om die lewe vir jou "gemaklik" te maak om 'n baba te hê en geriewe te skep om die proses voordelig te maak.
"As hulle (jou ouers) jou universiteit toe stuur, stuur hulle jou hiernatoe om te kom studeer. As die bestuur sê hulle het nie die kapasiteit om 'n swanger persoon te versorg nie, is hulle reg. Hulle is nie 'n hospitaal nie. Hulle is selfs nie jou huis nie.

"Ek is soms bekommerd oor jong mense se morele kompas, en dít is 'n geleentheid vir ons as leiers en as jong mense om na te dink oor die perke van ons regte. Jy het nie die reg dat die bestuur vir 'n baba sorg wat hulle nie gehelp het om te maak nie."
Maloka het gevra dat NSFAS-kantore op universiteite se kampusse ingestel word.
"Ons benodig mense wat werklike amptenare van die NSFAS is om van tyd tot tyd op die kampus te help."
Daar is ook geen gesertifiseerde geestelike praktisyns vir tradisionele kulturele beoefening nie.
Susan van Jaarsveld, waarnemende bedryfshoof, het gesê misdaadvlakke op kampus is in die algemeen laag en hou dikwels met nalatigheid of oneerlikheid verband, maar misdaad buite die kampus bly 'n ernstige bron van kommer, ten spyte van die pogings van die beskermingsdienste, die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum en private veiligheidsmaatskappye.
Daar is baie rooftogte en twee mense is vermoor. 27 studente is gesteek.
Alkohol en dwelmmisbruik speel 'n beduidende rol in rooftogte, het Van Jaarsveld gesê.
- keziah.bailey@media24.com




















