Onderwys

Kovsie-program laat regstudente met hul eie oë sien wat in howe gebeur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Prof. Hester Klopper, nuwe rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), en adv. Shamilah Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, by die bekendstelling van die “In die skaduwee van ’n aanklaer”-program op die UV-ka
Prof. Hester Klopper, nuwe rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), en adv. Shamilah Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, by die bekendstelling van die “In die skaduwee van ’n aanklaer”-program op die UV-ka

"In die skaduwee van 'n aanklaer", 'n program eerste in sy soort tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat (UV), is vandeesweek bekend gestel.

'n Memorandum van verstandhouding is Donderdagaand tussen die UV en die NVG ten aanskoue van regslui en tientalle regstudente op die Kovsie-kampus onderteken.

Die program, wat deur adv. Navilla Somaru, waarnemende direkteur van openbare vervolgings in die Vrystaat, en prof. Serges Kamga, dekaan van die fakulteit regsgeleerdheid, gekonseptualiseer is, tree op 17 Maart in werking.

Die idee met die "innoverende en oorspronklike" program is vir studente in hul derde en finale jaar, spesifiek regstudente, om hof toe te gaan en tyd saam met aanklaers daar deur te bring, sê adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings.

Basies sal hulle ervaar hoe 'n tipiese dag in die lewe van 'n aanklaer verloop, sê Batohi.

Sy sê dit gaan dus daaroor om al die teoretiese kennis wat jy aan die universiteit opdoen, na die praktyk te bring en te sien hoe die teorie en praktyk mekaar ontmoet.

"Soms kan dit baie verskil, maar dit help studente om te leer hoe om hul akademiese kennis toe te pas.

Batohi Woensdagaand by die bekendstelling van die program op die UV-kampus.  Foto: Verskaf
Batohi Woensdagaand by die bekendstelling van die program op die UV-kampus. Foto: Verskaf

"Dikwels wanneer ons die universiteit verlaat, het ons nie regtig die praktiese vaardighede wat ons bemarkbaar maak nie. Ek dink die waarde van hierdie program lê daarin dat studente wat dit voltooi, selfs al beland hulle nie in die NVG nie, tog praktiese ervaring sal hê wat hulle in hul loopbane kan help.

"Dit kan selfs insluit dat hulle verwysings kry van die aanklaers onder wie se toesig hulle gewerk het. Dit bied dus groot waarde aan die studente en die aanklaers. Vir ons as die NVG dra dit by tot die ontwikkeling van toekomstige regspraktisyns in die land."

Prof. Hester Klopper, nuwe rektor en visekanselier van die UV, sê die program bevat talle van die doelwitte, beginsels en waardes wat die instelling koester.

"Dit beliggaam nie net ons verbintenis tot die handhawing en uitbreiding van geregtigheid, billikheid en regverdigheid in die gemeenskappe wat ons universiteit bedien nie, maar weerspieël ook die klem wat ons plaas op werk-geïntegreerde leer en die waarde van samewerking en verbintenis."

Klopper sê as universiteit is die UV toegewyd aan die strewe na kennis en dien hy as 'n broeiplek vir innovasie en nuwe denke.

"Máár ons is ook voertuie vir maatskaplike geregtigheid. Dit behels nie net dat elke student toegang tot leergeleenthede van gehalte het nie - ongeag agtergrond of sosio-ekonomiese omstandighede - maar ook dat ons hulle ondersteun om sukses te behaal met daardie geleenthede."

Sy sê aan die UV word hul verbintenis tot geregtigheid, billikheid en regverdigheid weerspieël in hul programinhoud, werksaamhede, beleid en die interaksies tussen personeel, studente en belanghebbendes.

"Ons streef daarna om 'n instelling te wees waar ons diverse universiteitsgemeenskap 'n gevoel van behoort ervaar en waar ons ruimtes en daaglikse praktyke bydra tot 'n kultuur van aanvaarding, openheid en betrokkenheid."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM