Onderwys

Nóg bedrog by Fort Hare-Universiteit blootgelê

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie.  Foto: Argief
Foto ter illustrasie. Foto: Argief

'n Voormalige waarnemende finansiële hoof van die Fort Hare-Universiteit het Woensdag in die hof verskyn nadat verdere bedrog by die instelling blootgelê is.

Simbongile Geqeza (41) het in die landdroshof in Alice verskyn saam met Isaac Plaatjies (57), voormalige hoof van ondersoeke en keuringsdienste wat reeds betrek word by 'n afsonderlike saak teen voormalige en huidige werknemers en diensverskaffers van die universiteit. Dié groep het na bewering die instelling uit sowat R172 miljoen "gemelk".

Claudine Davids (44), 'n vriendin van 'n kennis van Plaatjies, was Woensdag die derde beskuldigde in die hof.

In nóg 'n saak word Plaatjies en ander daarvan aangekla dat hulle betrokke was by die moord op Petrus Roets, die universiteit se vlootbestuurder, en die moord op Mboneli Vesele, lyfwag van prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier. Plaatjies se drie pogings tot dusver om borgtog te kry, het misluk.

Die jongste saak teen Plaatjies dateer volgens die Valke van 2 September 2021. Geqeza het na bewering destyds 'n betaling van R1,4 miljoen goedgekeur aan 'n maatskappy wat blykbaar geen wettige bande met die universiteit het nie.

Die universiteitsbestuur het later die Valke gevra om die betaling te ondersoek. In dié ondersoek het die Valke 'n tweede vermeende bedrieglike transaksie gevind - 'n betaling van R985 000 aan 'n diensverskaffer. Die diensverskaffer is betaal vir ondersoekende dienste by die universiteit wat glo nooit gelewer is nie.

Die betaling is blykbaar deur Plaatjies gefasiliteer in samewerking met nóg 'n persoon en die geld is toe glo na Davids gekanaliseer.

Hulle is borgtog van R10 000 elk toegestaan en verskyn weer Vrydag in die hof op aanklagte van bedrog, geldwassery en korrupsie.

Nog mense sal na verwagting binnekort in verband met die saak in hegtenis geneem word, sê lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder.

Die Fort Hare-Universiteit het hul waardering teenoor die wetstoepassingsdepartemente uitgespreek.

Onlangs is twee bewarings- en beperkingsbevele toegestaan teen die bates en eiendom van sommige van die beskuldigdes in die bedrogsake.

"Dié belangrike ontwikkeling verseker Suid-Afrikaanse belastingbetalers dat die bates en eiendomme wat moontlik deur middel van bedrog, korrupsie en rampokkery bekom is, in kuratorskap bewaar word totdat die strafverhore afgehandel is en dat dit na die universiteitskoffers kan terugkom indien die beskuldigdes skuldig bevind word," sê JP Roodt, universiteitswoordvoerder, in 'n verklaring.

Volgens Roodt het 'n onlangse studie deur die universiteit aangedui daar is aansienlike openbare steun vir die voortgesette pogings deur die instelling om korrupsie uit te roei.

- caralee.scheun@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM