Onderwysers weet maar alte goed dat kinders wat heeltyd vra om toilet toe te gaan, dit soms doen om net te "ontsnap" uit die klas uit - veral wanneer dit 'n wiskundeklas is.
Maar toe Danica Scheepers (35), 'n gr. 5-wiskunde-onderwyseres aan die Laerskool Seodin in Kuruman, opmerk dat al hoe meer kinders in 'n periode vra om badkamer toe te gaan, moes sy iets doen omdat dit onderrigtyd begin ontwrig het.
En só is haar "boetestelsel"-projek in 2022 in die lewe geroep.

Dit leer die kinders ook om met geld te werk en pas in by die kurrikulum. Maar nog belangriker: Haar klasse is deesdae altyd rustig.
Scheepers is 'n finalis in Rapport, Netwerk24 en die Rapport Onderwysfonds se Onnie maak 'n plan-kompetisie.
Haar leerlinge is tussen 10 en 11 jaar oud en sodra een badkamer toe gaan, wil almal gaan, veral die seuntjies.
"Ek kan nie die een weier en die ander een toelaat om te gaan nie. En dis wiskunde - nie almal is altyd lus vir die vak nie," sê sy.
"Ek gee vir 120 kinders per dag klas en as 10 kinders elke periode wil badkamer toe gaan, is dit báie kinders per dag," sê Scheepers.

Die plan vir die projek het in Scheepers se kop begin vorm toe sy eendag R2 moes betaal sodat haar dogtertjie 'n openbare toilet kon gebruik.
Sy het toe R20, R10, R5, R2 en R1 op papier uitgedruk en dit gelamineer. Sy gee toe vir elke leerling R70 van die papiergeld waarmee hulle oor 'n tydperk van twee weke moet werk, en wat hulle gebruik om vir voordele of boetes te betaal. Sy wou nie meer as R70 vir die kinders gee nie omdat hulle nog klein is.
Alles in die klas het 'n prys. As hulle sekere voordele wil hê, "koop" hulle dit by Scheepers of as hulle 'n reël oortree het, betaal hulle daarvoor.
Die pryslys is in die klas teen die muur opgeplak.
As jy jou boeke vergeet, kos dit R3; as jy laat is vir klas, moet jy R2 betaal; om toilet toe te gaan kos R2. As jy skryfbehoeftes vergeet en juffrou Scheepers s'n leen, moet jy R5 betaal - R2 deposito en R3 vir die leen. Hulle kry die R2 terug wanneer hulle die skryfbehoeftes terugbesorg. Ontwrigting jaag leerlinge R5 uit die sak.
"Aan die einde van die twee weke kan diegene wat genoeg geld oor het, 'n af periode koop teen R50. Hulle kan dan daardie hele periode buite speel terwyl ek hul werk merk. Leerders wat te min geld oor het, gaan saam buitentoe, maar kry 'n werkvel om in daardie tyd te voltooi," sê Scheepers.
Die volgende dag word al die oorblywende klasgeld ingeneem, dan kry almal weer R70 vir die volgende twee weke.
Scheepers sê die leerlinge in haar klasse is nou baie rustig omdat hulle nie die ontwrigtingsboete wil betaal nie.
"Só kry ons meer werk gedoen. Dit leer hulle ook om nie onnodig badkamer toe te gaan of hul boeke te vergeet nie. Hulle kom ook nie laat nie. Alles is net makliker."
Scheepers sê die ouers ondersteun die projek en van die kinders het selfs beursies om hul geld veilig te hou. Dit help om kinders wat deesdae selde note en munte sien, oor geld te leer.

• Die Onnie maak 'n plan-kompetisie word aangebied in samewerking met die Rapport Onderwysfonds, 'n leningskema wat studente al 21 jaar met die ondersteuning van Rapport-lesers help om hulle as onderwysers te bekwaam.
Om 'n bydrae tot die Rapport Onderwysfonds te lewer of meer te wete te kom oor hoe ons jou met jou studie kan help, klik hier of gaan na www.rof.org.za.
Onderwysers in Suid-Afrika is baie kreatief. Dít is duidelik uit die byna 150 inspirerende inskrywings wat ons vir Onnie maak 'n plan ontvang het.
Oor die volgende paar weke sal die res van die 10 finaliste in Rapport op Netwerk24 aan lesers voorgestel word, en van 22 Junie af kan die publiek vir die wenner stem.
Ons sal op dié datum ál 10 finaliste se stories weer publiseer en ook sê hoe die stemproses gaan werk.
Die wenners word op Sondag 27 Julie aangekondig.
Die wenner kry R50 000 en nog R30 000 vir sy of haar skool. Die tweede prys is R30 000 en R20 000 vir die onnie se skool. Die onnie in die derde plek kry R20 000 en R10 000 vir sy of haar skool. Die ander sewe finaliste kry R5 000 elk.




















