Suid-Afrika se model vir sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede (Setas) misluk en bloei belastingbetalersgeld, sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).
"Die jeug wat dit veronderstel is om te dien, word gestrand gelaat. Ons het te doen met herwinde leierskap, twyfelagtige tenders en ondersoeke wat versteek of geïgnoreer word. Dit is nie toesighouding nie, dis 'n toesmeerdery," sê Wayne Duvenage, Outa se uitvoerende hoof.

Outa het ná sy eie ondersoeke Buti Manamela, nuwe minister van hoër onderrig en opleiding wat die afgedankte dr. Nobuhle Nkabane vervang het, skriftelik versoek vir 'n vergadering om die "wydverspreide bestuursmislukkings in die Setas, die gebrek aan optrede rakende forensiese ondersoeke en die groeiende risiko dat belastingbetalersgeld steeds sonder verantwoording bestee word", te bespreek.
Pres. Cyril Ramaphosa het Nkabane op 21 Julie afgedank omdat sy glo ANC-kaders as nuwe Seta-raadsvoorsitters wou aanstel en nadat sy onder meer daarvan beskuldig is dat sy die parlement mislei het deur te sê dat die raadsvoorsitters wat aanbeveel is, onafhanklik was.
Mandla Tshabalala, Manamela se woordvoerder, het Donderdag net gesê dat Manamela se kantoor Outa se versoek vir 'n vergadering ontvang het. "Ons het die versoek erken."

Duvenage sê verder in 'n verklaring dat die Seta-sektor belastingbetalers vanjaar R21 miljard aan vaardigheidsontwikkelingsheffings kos.
Setas is bedoel om jong Suid-Afrikaners met kritieke vaardighede toe te rus, "maar baie ly aan growwe wanadministrasie, word geteister deur chaos, swak leierskap en 'n blatante mislukking om die jeugdiges wat op hulle staatmaak, te dien".
"Ernstige vrae ontstaan by belastingbetalers wat hierdie Setas finansier oor die waarde wat gekry word uit hul bydraes van die vaardigheidsontwikkelingsheffings en die werklose jeug wat veronderstel is om daarby baat te vind," sê Duvenage.
Volgens hom het Outa-ondersoeke die laaste jare na die konstruksie-Seta (Ceta), die versekering-Seta, die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) en ander entiteite onder die departement van hoër onderrig en opleiding soortgelyke patrone gevind.
"Van gemanipuleerde verkryging, kontrakte met opgeblase pryse, mislukte dienslewering en die beweging tussen entiteite van sleutelpersone wat met twyfelagtige verkrygings verbind is. Verder was daar ondersoeke wat niks opgelewer het nie en 'n skrikwekkende gebrek aan verantwoordbaarheid."
Outa het ook afgekom op pogings om fluitjieblasers by Setas te intimideer.
Duvenage sê Outa het voor haar afdanking ook met Nkabane oor hul kommer oor die Setas vergader. "Outa is veral bekommerd oor die gebrek aan optrede na aanleiding van duur forensiese ondersoeke (wat miljoene rande gekos het) wat voorheen by Setas gedoen is. Ons wil die behoefte aan sterk, onafhanklike rade en uitvoerende bestuurders vir hierdie entiteite beklemtoon."
Outa gaan ook sy Seta-ondersoekverslag, wat forensiese ondersoekverslae insluit, aan die portefeuljekomitee oor hoër onderrig en opleiding voorlê om die komitee met sy toesighouding te help.
Oor die vergadering wat met Manamela versoek is, sê Duvenage dat Outa "openhartig" met hom wil praat. "Dit is tyd vir herstel. Die sektor het dringend deursigtige leierskap, onafhanklike rade en die politieke wil nodig om op te tree oor die bewyse waarvoor daar (in peperduur forensiese ondersoeke en regsmenings) betaal is."
- llewellyn.prince@24.com




















