Die gesegde "sien is glo", is met verbeterde akademiese prestasie danksy die e-Beeldskool 'n werklikheid.
Elize Engelbrecht, hoof van die e-Beeldskool, sê dat 'n ouma van een van die leerlinge wat verlede jaar by die e-Beeldskool ingeskryf het, nie uitgepraat kan raak oor hoe baie dit haar kleinkind gehelp het nie.
"Jolene het goed gedoen. Ek is vas oortuig dat dit nie moontlik sou wees sonder die e-Beeldskool nie. Die klasse het vir haar baie beteken. Dit het nie net haar kennis en insig op standaard gebring nie, maar haar ook baie meer selfvertroue gegee. Baie dankie aan al die spanlede van die e-Beeldskool. Julle maak werklik 'n verskil," het Engelbrecht die betrokke ouma aangehaal.
"Daar is ouers wat sê hul kinders se punte het met meer as 20% in wiskunde gestyg danksy verlede jaar se klasse," sê Engelbrecht.
"e-Beeldskool is vir leerlinge wat graag hul kennis wil verryk en hul prestasies wil help verbeter. Dit is dan ook ons doelwit om leerlinge te help om optimaal te presteer.
"Leerlinge vind werklik baie baat by die klasse, die deurlopende e-posse en dankie-boodskappe wat ons kry, getuig daarvan."
Die e-Beeldskool is slaggereed om in hierdie jaar ook aan leerlinge 'n ekstra hupstoot te gee om op akademiese vlak te presteer.
Volgens Engelbrecht het die aanlyn klasse op 10 Februarie begin, maar leerlinge kan steeds registreer.
"Gr. 11's en gr. 12's kan registreer vir weeklikse klasse in wiskunde en fisiese wetenskappe, en gr. 10's vir wiskunde."
Die onderrigtyd van hierdie weeklikse klasse is twee uur per sessie en die klasse duur tot 1 September.
Boonop word aantekeninge en skakels na video-opnames van elke klas met elke leerling gedeel sodat hulle dit weer kan kyk sou hulle wou, of indien hulle 'n regstreekse klas misgeloop het.
Boonop bied die e-Beeldskool vanjaar weer vakansieskole, eksamenafronding en verrykende kursusse aan.
"Leerlinge kan sommer nou al vir die Maart-vakansieklasse registreer," sê Engelbrecht.
• Vir meer inligting oor alles wat die e-Beeldskool bied, besoek https://www.ebeeldskool.co.za/.
Navrae kan ook gerig word aan skool@ebeeldskool.co.za of 083 380 1800.
















