ActionSA het ook aangesluit by politieke partye wat nie hul weg oopsien om vir die omstrede nasionale begroting te stem nie.
Dié party het aan die ANC se taakspan geskryf wat oor die goedkeuring van die begroting onderhandel om sy standpunt duidelik te stel, sê Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, en Athol Trollip, dié party se parlementêre leier, in 'n gesamentlike verklaring.
ActionSA is gekant teen die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) en inkomstebelasting wat verhoog word weens blokkruiping.

Dit sal dit baie moeilik vir die regering maak om die begroting goedgekeur te kry, veral omdat twee van die partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) ook daarteen gekant is.
Die DA het Woensdag sy teenkanting teen die begroting weer duidelik gestel in 'n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies.
Hulle is steeds gekant teen enige vorm van verhoging in BTW omdat dit die lewenskoste van Suid-Afrikaners sal verhoog.
Die DA stel onder meer voor dat daar probeer word om die regering se uitgawes te besnoei eerder as om mense verder te belas.
Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, sê by navraag sy party sal die begroting in sy huidige vorm beslis nie steun nie.
Velenkosini Hlabisa, leier van die IVP, het Sondag in Ulundi gesê sy party sal die begroting voorwaardelik steun.
Die IVP, ook 'n lid van die RNE, wil nie hê die regering moet nog geld leen om begrotingstekorte aan te vul nie.
Een van die IVP se voorwaardes is dat daar met die verhoging in BTW weggedoen word sodra ander inkomstebronne gekry word.
Dié party vra ook om 'n dringende kabinetsvergadering om die uitgawes van elke staatsdepartement, asook planne om die ekonomie te laat groei, te bespreek.
Volgens Beaumont en Trollip was Vrydag se vergadering tussen ActionSA en die taakspan heel gemoedelik en het hy in sy rol as "konstruktiewe opposisie" na die ANC se voorstelle geluister.
Hy kan weens die beplande belastingverhogings nie die begroting steun nie omdat die regering nog niks aandag gegee het aan sy redelik spandabele geldmorsery en ondoeltreffendhede nie.
"Die kern van ons besluit is egter die feit dat die RNE ActionSA nie vooraf oor die begroting geraadpleeg het nie."
ActionSA skryf in sy brief aan die taakspan steun om die begroting goed te keur moet van binne die RNE kom of van 'n nuut saamgestelde regering.
Die RNE is bestempel as 'n "onsamehangende" regering wat die land in 'n "ongekende grondwetlike en begrotingskrisis gedwing" het.
"ActionSA doen 'n beroep op alle partye in die RNE om op 'n volwasse manier en met die beste belange van die land in gedagte te onderhandel of opsy te staan as hulle onwillig is om dit te doen."




















