Politiek

Ons elektrisiteitstelsel bly kwesbaar – Ramaphosa

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoewel Suid-Afrika tans die langste aaneenlopende tydperk sonder beurtkrag sedert 2020 ervaar, is dit nie 'n rede om te ontspan nie, sê pres. Cyril Ramaphosa.

"Ons elektrisiteitstelsel bly kwesbaar en ons kan nog nie 'n moontlikheid van verdere beurtkrag uitsluit nie. Hierdie mylpaal bied eerder aanmoediging vir ons om meer te doen en om vinniger te werk om 'n veilige voorsiening van elektrisiteit nou en in die toekoms te verseker," skryf hy Maandag in sy weeklikse nuusbrief.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Dit was Vrydag 100 dae sedert die land laas beurtkrag ervaar het.

Ramaphosa skryf dit is te danke aan die werklike vordering wat gemaak is met die implementering van die energieaksieplan sedert Julie 2022.

"Ons sien nou ook van die resultate van die samewerking tussen die regering, private sektor en ander maatskaplike vennote. Danksy die ywerige implementering deur Eskom van sy opwekkingsherstelplan, sowel as 'n verskerpte instandhoudingskedule, was daar 'n merkbare verbetering in die werkverrigting van die kragstasies wat die grootste deel van Suid-Afrika se elektrisiteit produseer," sê hy.

"Eskom het verlede week suksesvol Eenheid 5 by die Kusile-kragstasie in gebruik geneem en 'n bykomende 800 MW by die netwerk gevoeg. Dit volg op die kragvoorsiener se werk om drie eenhede by Kusile voor skedule weer in diens te stel."

Volgens Ramaphosa was die verbetering in die betroubaarheid van kragvoorsiening 'n verligting vir huishoudings en ondernemings, wat met hul daaglikse lewe sonder die ongerief van beurtkrag kon voortgaan.

Die jongste verbruikersvertroue-indeks wat deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing saamgestel is, het volgens Ramaphosa getoon dat die opskorting van beurtkrag bygedra het tot verhoogde verbruikersvertroue in die tweede kwartaal van vanjaar.

Hy glo hierdie verbetering is ook 'n hupstoot vir die ekonomie, wat afhanklik is van die beskikbaarheid en betroubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening vir groei.

"Daar is rede tot optimisme dat sake- en beleggersvertroue sal verbeter.

"Vroeër vandeesmaand het die staalvervaardiger ArcelorMittal aangekondig dat dit weens verbeterings in die land se elektrisiteit- en logistieke situasie nie sal voortgaan om sy bedrywighede in Newcastle en Vereeniging te sluit nie. Die Reserwebank het in sy Monetêrebeleidsoorsig vir April opgemerk dat ‘namate elektrisiteitsvoorsiening geleidelik verbeter, ondersteun deur voortgesette private belegging in hernubare energie-opwekking en verhoogde instandhouding deur Eskom', Suid-Afrika se nabye- en mediumtermynvooruitsigte vir groei gaan toeneem," skryf die president.

"Die Reserwebank het die belangrikheid van die volle implementering van hervorming in die energie- en logistiekesektor beklemtoon, as groei wil verbeter."

Ramaphosa sê sy administrasie bly daartoe verbind om die verreikende strukturele hervormings wat in die vorige termyn begin is, voort te sit om die onmiddellike kragprobleme op te los én om die grondslag vir energiesekerheid in die toekoms te lê.

Die jongste mylpaal met die strukturele hervormings is volgens hom die aanvang van verhandeling verlede week van die Nasionale Transmissiemaatskappy Suid-Afrika (NTSA), wat die nasionale transmissiestelsel sal besit en bedryf.

"Dit vorm deel van die hervormings wat ons gedryf het om 'n elektrisiteitsmark te vestig wat mededinging moontlik sal maak, voorsiening sal verseker én die energiesektor sal revolusioneer."

Ramaphosa skryf die nuwe regering van nasionale eenheid sal hierdie momentum volhou soos dit met sy werksaamhede begin.

"Vir ons om voort te gaan om die energieaksieplan te implementeer en die hardwerkende bestuur en personeel van Eskom te ondersteun, wat dag vir dag help om ons uit hierdie krisis te bring, moet ons almal in dieselfde rigting trek."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM