Die Suid Afrikaanse nasionale ruimte-agentskap (Sansa) gaan die Emirate se maansending (ELM) steun met die hulp van twee antennas wat gebruik sal word om te kommunikeer met die maantuig die Rashid.
Dit is die eerste Arabies vervaardigde maantuig en is op 11 Desember op 'n Space X Falcon 9-vuurpyl van die Kennedy-ruimtesentrum in die Amerikaanse deelstaat Florida gelanseer.
Sansa sê in 'n verklaring hy het 'n ooreenkoms met die Mohammed Bin Rashid-ruimtesentrum onderteken.
Die sentrum gaan Sansa se Hartbeeshoek-grondstasie gebruik om regstreekse kommunikasie tussen die maantuig en ELM se beheersentrum in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) te bewerkstellig nadat die Rashid op die maan geland het.

"Maansendings is kompleks, vol uitdagings en het min tot geen ruimte vir foute nie. Teen hierdie agtergrond benader ons die beplande ondersteuning met uiterste nougesetheid," sê Tiaan Strydom, waarnemende hoof van kommersiële dienste van Sansa.
Die ELM-sending sal sowat vyf maande reis voordat dit die maan bereik.
Terwyl die Rashid onderweg na die maan is, sal ingenieurs van die Mohammed Bin Rashid-ruimtesentrum Suid-Afrika besoek om saam met Sansa se ingenieurs die gespesialiseerde toerusting by Hartbeeshoek te installeer en te toets.
Dr. Hamad Almarzooqi, ELM se direkteur, sê "geweldige vordering is met die sending gemaak met die hulp van ons vennote. Die span van die Mohammed Bin Rashid-ruimtesentrum is opgewonde om saam met die Suid-Afrikaanse span te werk om die sending suksesvol te voltooi."
Volgens Strydom is die ELM spesiaal vir Sansa "omdat dit vir die VAE 'n geskiedkundige sending is".





