Andy Kawa, voormalige sakevrou van Gauteng wat die polisie vir miljoene gedagvaar het in verband met nalatigheid in die ondersoek na haar gru-verkragting, het Woensdag ’n skikkingsbevel bekom.
Kawa se stryd om geregtigheid het langer as ’n dekade geduur.
“Dit was ’n lang pad, geken aan pyn, terugslae en hofsake, maar ek het myself toegewy om ’n stem en baken te wees vir ander slagoffers van geslagsgeweld.
“Hierdie saak bewys dat oorlewendes die staat kan uitdaag en wen,” het Kawa gesê kort nadat die bevel Woensdagoggend in die hooggeregshof in Gqeberha uitgereik is.
Die bedrag is nie onmiddellik bekend gemaak nie.
Kawa se saak teen die polisie spruit uit ’n voorval in Desember 2010 toe Kawa op Koningstrand in Gqeberha ontvoer, vir byna 15 uur lank aangehou en herhaaldelik verkrag is.
Sy het die polisieminister meer as agt jaar gelede gedagvaar weens hul beweerde knoeiwerk met die ondersoek.
Die hoogste hof in die land het reeds beslis sy is geregtig op 40% van enige skade wat sy kan bewys sy weens die voorval gely het.





















