André Badenhorst (92), wat nog in elke verkiesing gestem het sedert hy 18 jaar oud was, het Maandag met sy kierie en loopraam by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein opgedaag om te stem.
Dit het gekom nadat iets verkeerd geloop het met sy registrasie om 'n spesiale stem by sy blyplek, die Serenitas-aftreeoord in Bloemfontein, uit te bring.
Badenhorst sê hy was destyds een van sewe stigterslede van die Hoërskool Dan Pienaar, wat later met die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein saamgesmelt het. Nadat die skool begin het, het hulle ook in die raad van die skool gedien.
Hy het later die pos van adjunk-direkteur in die destydse skakelburo van die Universiteit van die Vrystaat beklee.
Badenhorst, met 'n masker aan, het saam met ondersteunende personeel van die Serenitas-aftreeoord met sy loopring en kierie by die Hoërskool Sentraal se stemlokaal opgedaag en eers 'n wyle op die stoele vir besoekers buite die gebou gerus.
Hierna het hy die moed bymekaar geskraap, opgestaan en voetjie vir voetjie na die stemlokaal geloop, terwyl sy versorgers hand bygesit en hom by die trap opgehelp het.
Hy het dadelik vir die voorsittende beampte van die stemlokaal gesê dat hy hier is om te stem. Hy het sy identiteitsboekie laat skandeer, waarna 'n merk op sy vinger aangebring is.
Hy het na die hokkie geloop om sy kruisie op die twee stembriewe te trek: Een vir sy wykskandidaat en nog een vir sy politieke party.
Badenhorst het die stembriewe netjies in die houers gepos, vriendelike geselsies aangeknoop en toe die stemlokaal verlaat.
"Ons stem vir beter dienslewering en dit is baie belangrik dat 'n mens jou deel moet doen en stem.
"As jy nie stem nie, sal jy nie later kan kla as die munisipale dienste nie dit is waarvoor jy gehoop het nie," het hy bygevoeg.






















