Verkiesing 2021

ActionSA verloor stryd oor naam op stembrief

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
(action SA)

ActionSA se poging om die party se naam met 'n stempel of plakker op sekere stembriewe vir wyke in Gauteng te kry voor 1 November, het misluk.

Dit kom nadat die kieshof Vrydag 'n bevel gemaak het in die saak waarin dié politieke party die Verkiesingskommissie (OVK) in die hof gedaag het oor die weglating van hul naam op sekere stembriewe.

ActionSA het nie 'n akroniem vir hul party gegee vir die stembriewe nie, want hulle meen die naam bestaan uit net agt karakters. Dit is kort genoeg om as die akroniem te gebruik.

ActionSA het Donderdag in die verhoor, wat virtueel gehou is, gesê die OVK het 'n plig gehad om hulle in te lig oor wat die gevolge sou wees toe hulle nie 'n akroniem vir hul party op die stembrief geregistreer het nie.

Net die foto van die wyksraadslid en die embleem van die party verskyn op die brief. Dit sal hulle benadeel op verkiesingsdag, sê die party.

Die stembriewe is begin Oktober bekend gestel en ActionSA het kort daarna die hof genader in 'n poging om sy naam, hetsy met 'n plakker of stempel, op die brief te plaas, omdat die briewe reeds gedruk was.

Op die stembriewe verskyn die name van die wykskandidate, die kenteken van hul party en die afkorting van die party se naam, maar by ActionSA het net die foto van die betrokke wyksraadslid en die embleem, sonder die party se naam, verskyn.

ActionSA het gesê die vorm het nie gestipuleer dat dit verpligtend is nie, en ook nie verduidelik wat sou gebeur as daar nie 'n akroniem is nie.

Daarom het ActionSA aangevoer dat die OVK sy grondwetlike pligte versuim deur te verseker dat daar 'n regverdige stemproses gevolg is.

Die OVK het aangevoer dit is sy reg om te bepaal hoe die stembriewe moet lyk. Dit sluit in die naam van die kandidaat, 'n foto van die kandidaat as hy onafhanklik is, die kenteken van die party en die afkorting, indien dit by die OVK geregistreer is.

Dit is ook nie sy plig om partyy oor die implikasies van die registrasie in te lig nie. Die OVK het gesê die blote feit dat die naam agt karakters het en dus op die brief gebruik kan word, kan ook nie as 'n verduideliking aanvaar word nie.

Regter Boissie Henry Mbha, regter-president van die kieshof, het saam met drie ander regters Donderdag die saak aangehoor en Vrydag net hul bevinding gegee omdat dit baie dringend is. Hulle sal later redes vir hul bevinding verskaf.

ActionSA het daarna gesê hy is teleurgesteld, maar sal daarby hou omdat hulle die regbank respekteer.

Hulle het die landsburgers bedank vir hul ondersteuning om 'n alternatiewe oplossing vir die probleem probeer vind het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM